Lukas 17

17
Uitsprake van Jesus
(Matt 18:6-7,21-22; Mark 9:42)
1Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. 2Dit is beter vir hom dat 'n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. 3 Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. 4En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.”
5Toe sê die •apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” 6 En die Here antwoord: “As julle geloof soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.
7“Wie van julle sal, as hy 'n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ 8Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? 9Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! 10Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ”
Genesing van tien melaatse mans
11Op 'n keer het Jesus op pad na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea gereis. 12Toe Hy 'n sekere dorpie binnegaan, het tien melaatse mans Hom tegemoet gekom. Hulle het op 'n afstand bly staan 13en uitgeroep: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!” 14Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Op pad daarheen is hulle gereinig. 15Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met 'n harde stem geloof. 16Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was 'n Samaritaan. 17Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? 18Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” 19Toe sê Hy vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.”
Die koninkryk van God
(Matt 24:23-28,37-41; Mark 13:19-23; 13:14-16)
20Toe Jesus op 'n keer deur die •Fariseërs gevra is wanneer die •koninkryk van God kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koninkryk van God kom nie met duidelik waarneembare tekens nie. 21Mense sal nie sê, ‘Kyk, hier is dit!’ of ‘Daar is dit!’ nie, want kyk, die koninkryk van God is in julle midde.” 22Hy het aan sy dissipels gesê: “Daar kom 'n tyd wanneer julle sal begeer om maar één van die dae van die •Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. 23Dan sal die mense vir julle sê, ‘Kyk daar!’ of ‘Kyk hier!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie. 24Want soos 'n weerligstraal die hemel van die een kant af tot aan die ander kant verlig, só sal die Seun van die Mens op sy dag verskyn. 25 Maar eers moet Hy baie lyding verduur en deur hierdie geslag verwerp word. 26Net soos in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die Mens. 27Hulle het geëet, gedrink, in die huwelik getree en in die huwelik uitgegee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan en die vloed gekom en almal vernietig het. 28Net so het dit ook in die dae van Lot gegaan – hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou; 29 maar op die dag dat Lot uit Sodom weggetrek het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig. 30Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die Mens geopenbaar word. 31 Wie op daardie dag op sy dakstoep sal wees, met sy besittings nog in die huis, moenie ondertoe gaan om dit te gaan haal nie. Net so moet die een op die landerye nie terugdraai na wat agter is nie. 32Onthou Lot se vrou!
33“ Wie probeer om sy lewe te beveilig,
sal dit verloor,
maar wie dit verloor,
sal dit behou.
34“Ek sê vir julle:
“Daardie nag sal twee mense
op een bed wees –
die een sal saamgeneem
en die ander agtergelaat word.
35Twee vroue sal besig wees
om by dieselfde meul te maal –
die een sal saamgeneem
en die ander agtergelaat word.”
37Hulle vra toe vir Hom: “Waar, Here?” Hy antwoord hulle: “Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls ook versamel.”

Tans Gekies:

Lukas 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid