Lukas 10

10
Uitsending van twee-en-sewentig dissipels
1Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. 2 Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
4“ Moenie 'n beursie of 'n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. 5Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’ 6As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. 7 Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie. 8As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. 9Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die •koninkryk van God op hande.’ 10 Maar as julle in 'n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, 11‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ 12 Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.”
Rampe oor die onboetvaardige stede
(Matt 11:21-23)
13“Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum,
“Sal jy tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal na Hades afdaal!
16 “Wie na julle luister,
luister na My,
en wie julle verwerp,
verwerp My.
En wie My verwerp,
verwerp Hom wat My gestuur het.”
Terugkeer van die twee-en-sewentig
17Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. ”
Jesus se lof aan die Vader
(Matt 11:25-27; 13:16-17)
21Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. 22Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die •Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” 23Toe hulle op hulle eie was, het Jesus na sy dissipels gedraai en vir hulle gesê: “Gelukkig is die oë wat sien wat julle sien, 24 want Ek sê vir julle, baie profete en konings sou graag wou sien wat julle sien, maar het nie gesien nie, en sou graag wou hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie.”
Liefdesgebod: die barmhartige Samaritaan
(Matt 22:35-40; Mark 12:28-31)
25En kyk, 'n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” 27Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ” 28“Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” 29Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?”
30Hierop het Jesus geantwoord: “'n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 31'n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. 32En net so het ook 'n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. 33Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34 Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na 'n herberg en versorg hom daar. 35Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ 36Wie van hierdie drie, dink jy, was 'n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” 37En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Martha en Maria
38Terwyl hulle op reis was, het Hy by 'n sekere dorpie gekom waar 'n vrou met die naam Martha Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster met die naam Maria gehad, wat by die Here se voete gaan sit het om na sy woorde te luister. 40Maar Martha was besig met al die voorbereidings. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” 41Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, 42maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

Tans Gekies:

Lukas 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid