Levitikus 6

6
1 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Wanneer iemand sondig en teen die Here oortree deurdat hy teenoor 'n volksgenoot ontken dat iets aan hom in bewaring gegee of aan hom toevertrou is, of dat hy sy volksgenoot beroof of afgepers het, 3 of wanneer hy verlore goedere gevind het, dit ontken en vals sweer oor enige van die dinge wat mense gewoonlik doen en daardeur sondig, 4 dan moet hy, wanneer hy op hierdie manier gesondig het en skuldig is, teruggee wat hy geroof of afgepers het of wat aan hom in bewaring gegee is of die verlore goedere wat hy gevind het 5of enigiets waaroor hy vals gesweer het. Hy moet die waarde daarvan ten volle betaal en 'n vyfde daarby voeg. Op die dag van sy skulderkenning moet hy dit onverwyld betaal aan wie dit toekom.
6“ Sy •hersteloffer vir die Here moet hy na die priester toe neem: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee en met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer. 7 Die priester moet vir hom versoening doen voor die Here en hy sal vergewe word vir enige van hierdie dinge wat hy gedoen en skuldig geword het.”
Riglyne vir priesters oor offers
8 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 9“ Gee vir Aäron en sy seuns die volgende opdrag, ‘Dit is die voorskrifte vir die •brandoffer: Die brandoffer moet dwarsdeur die nag tot die volgende oggend op die vuurmaakplek op die altaar bly. Die altaar se vuur moet in die vuurmaakplek op die altaar aan die brand gehou word. 10 Die priester moet sy linnekleed aantrek en ook 'n linnebroek oor sy onderlyf aanhê. Hy moet die vetterige as van die brandoffer wat deur die vuur op die altaar verteer is, opskep en dit langs die altaar neersit. 11Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek. Hy moet die vetterige as na 'n rein plek buite die kamp neem. 12Die vuur op die altaar moet aan die brand gehou word; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke môre hout op die vuur pak, die brandoffer daarop rangskik en die stukke vet van die •maaltydoffer daarop verbrand. 13 Die vuur op die altaar moet voortdurend aan die brand gehou word en mag nie uitbrand nie.
14 “ ‘En dit is die voorskrifte vir die •graanoffer: Die seuns van Aäron moet dit na die voorkant van die altaar voor die Here bring. 15Een van hulle moet 'n handvol van die graanoffer se gesifte meel en olie neem, asook al die wierook wat op die graanoffer lê. Hy moet die simboliese offer vir die Here op die altaar verbrand as 'n aangename geur. 16Wat daarvan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Dit moet ongesuurd wees en op 'n heilige plek geëet word; in die voorhof van die Tent van Ontmoeting moet hulle dit eet. 17 Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit gegee as hulle deel van die offergawes aan My. Dit is 'n besonder heilige gawe, soos die •reinigingsoffer en die hersteloffer. 18 Enige manlike nasaat van Aäron mag dit eet. Dit is die deel uit die offergawes vir die Here wat julle nageslag altyd moet kry. Alles wat daarmee in aanraking kom, is heilig.’ ”
19Die Here het met Moses gepraat en gesê: 20“ Dit is die offer wat Aäron en sy seuns vir die Here moet bring vanaf die dag dat hy gesalf is: 'n tiende van 'n efa gesifte meel as 'n voortdurende graanoffer, die een helfte soggens en die ander helfte saans. 21Dit moet op 'n bakplaat voorberei word, deurgeknie met olyfolie. Jy moet dit in gebreekte stukkies as 'n graanoffer naderbring. Jy moet dit aanbied as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 22 Die priester uit die nageslag van Aäron wat in sy plek gesalf is, moet dit voorberei. Dit is die deel wat die Here altyd moet kry. Met vuur moet dit verbrand word. 23Elke graanoffer van 'n priester moet 'n volledige offer wees; dit mag nie geëet word nie.”
24Die Here het met Moses gepraat en gesê: 25 “Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘Dit is die voorskrifte vir die reinigingsoffer: Op die plek waar die brandoffer voor die Here keelaf gesny word, moet die reinigingsoffer ook keelaf gesny word. Dit is besonder heilig. 26Die priester wat die reinigingsoffer hanteer, moet dit eet; op 'n heilige plek, in die voorhof van die Tent van Ontmoeting, moet dit geëet word. 27Alles wat aan die offervleis raak, is heilig. As van die bloed daarvan op 'n kledingstuk spat, moet jy die kledingstuk waarop dit gespat het, in 'n rein plek afspoel. 28Die kleipot waarin die offer gekook is, moet gebreek word, maar as dit in 'n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water gewas word. 29Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Dit is besonder heilig. 30Maar geen reinigingsoffer mag geëet word as van die bloed daarvan in die Tent van Ontmoeting ingeneem word om in die heiligdom versoening te doen nie. Dit moet met vuur verbrand word.

Tans Gekies:

Levitikus 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid