Levitikus 12

12
Reiniging van 'n vrou ná geboorte
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Praat met die Israeliete en sê, ‘Wanneer 'n vrou swanger is en aan 'n seun geboorte gee, sal sy sewe dae lank •onrein wees. Sy sal onrein wees soos gedurende haar menstruasie. 3 Op die agtste dag moet die seun se voorhuid besny word. 4 Drie-en-dertig dae lank moet sy vanweë die bloeding vir reiniging tuis bly. Totdat die dae van haar reiniging verby is, mag sy nie aan enigiets wat heilig is, raak nie en mag sy glad nie na die heiligdom gaan nie. 5As sy aan 'n dogter geboorte skenk, sal sy twee weke lank onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie. Ses-en-sestig dae lank moet sy vanweë die bloeding vir reiniging tuis bly.
6“ ‘ Wanneer die dae van haar reiniging verby is – of sy nou aan 'n seun of aan 'n dogter geboorte geskenk het – moet sy 'n jaar oue lam as •brandoffer en 'n jong duif of tortelduif as •reinigingsoffer na die priester by die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring. 7 Hy moet dit voor die Here naderbring om vir haar versoening te doen en dan sal sy gereinig wees van die vloei van haar bloed. Dit is die voorskrif vir 'n vrou wat geboorte skenk, of dit nou aan 'n seun of 'n dogter is.
8 “ ‘As sy egter nie 'n skaap kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem: een as 'n brandoffer en een as 'n reinigingsoffer. Die priester sal dan vir haar versoening doen en sy sal rein wees.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid