Levitikus 11

11
Voorskrifte oor rein en onrein diere
1 Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê, ‘Van al die diere op land mag julle die volgende eet: 3 Alles wat volledig gesplete hoewe het en herkou, dié mag julle eet.
4“ ‘ Die volgende diere wat herkou of wat gesplete hoewe het, mag julle egter nie eet nie:
“ ‘Kamele, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle •onrein;
5“ ‘Dassies, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein;
6“ ‘Hase, want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein;
7“ ‘ Varke, want hulle het volledig gesplete hoewe, maar hulle herkou nie – hulle is beslis vir julle onrein.
8“ ‘Van hulle vleis mag julle glad nie eet nie en aan hulle karkasse mag julle nie raak nie. Hulle is beslis vir julle onrein.
9“ ‘ Van alles wat in water is, mag julle die volgende eet:
“ ‘Alles met vinne en skubbe wat in die oseane of in waterstrome leef, dít mag julle eet. 10 Maar alles in die oseane of in waterstrome wat nie vinne of skubbe het nie – van alles wat krioel in water en van enige lewende wese wat in water hou – dit moet vir julle beslis afstootlik wees. 11Afstootlik moet dit vir julle wees: Julle mag nie van hulle vleis eet nie en hulle karkasse moet julle as afstootlik beskou. 12 Alles in die water sonder vinne en skubbe moet vir julle beslis afstootlik wees.
13“ ‘ Die volgende diere met vlerke moet vir julle afstootlik wees en julle mag dit nie eet nie, hulle is beslis afstootlik:
“ ‘gewone arende, breëkop-arende;
swartaasvoëls,
14jakkalsvoëls en alle soorte valke;
15alle soorte kraaie;
16steenuile, ooruile;
seemeeue;
alle soorte kleinvalkies, 17naguiltjies;
visarende;
grasuile, 18nonnetjiesuile;
bontkraaie;
Egiptiese aasvoëls,
19ooievaars en alle soorte reiers;
hoep-hoepe en vlermuise.
20“ ‘ Alle insekte met vlerke en vier pote is beslis vir julle afstootlik. 21 Maar van dié met vlerke en vier pote mag julle egter wel dié eet wat gelede pote het om op die grond mee te spring. 22Van die volgende mag julle eet: alle soorte treksprinkane, veldsprinkane, krieke en koringkrieke. 23Alle ander insekte met vlerke en vier pote is egter beslis vir julle afstootlik.
24“ ‘ Julle word ook deur die volgende verontreinig, en elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand onrein wees 25 en enigiemand wat 'n stuk van die karkas gedra het, moet sy klere was en sal tot die aand onrein wees: 26Die karkas van enige dier wat nie volledig gesplete hoewe het of wat nie herkou nie, is beslis vir julle onrein. Elkeen wat daaraan raak, sal onrein wees. 27Ook al die viervoetige diere wat op sagte pote loop, is vir julle beslis onrein. Elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand onrein wees. 28En iemand wat die karkasse gedra het, moet sy klere was en sal tot die aand onrein wees. Hulle is beslis onrein vir julle.
29“ ‘Onder die kruipende diere wat op die grond rondbeweeg, is die volgende vir julle onrein: muishonde, muise en alle soorte paddas, 30geitjies, likkewane, akkedisse, koggelmanders en verkleurmannetjies. 31Onder al die kruipende diere is hierdie diere vir julle onrein. Elkeen wat raak aan een van hulle wat dood is, sal tot die aand onrein wees. 32Enigiets waarop een van hulle wat dood is, val, sal onrein wees: Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, materiaal, leer of geweefde bokhaar, of vir enigiets wat daagliks gebruik word. Dit moet in water gedompel word en sal onrein wees tot die aand, maar is daarna weer rein.
33“ ‘ Wanneer een van hulle in 'n kleipot val, sal alles wat daarin is, onrein wees. Die pot moet gebreek word. 34Enige kos wat nog geëet kan word en waarop water uit so 'n pot gegooi word, is onrein. Ook enige vloeistof in so 'n pot, wat gedrink kan word, is onrein. 35Enigiets waarop een van hulle karkasse val, sal onrein wees. 'n Kleioond of 'n dubbele kookplek van klei moet afgebreek word. Dit is onrein en dit moet ook vir julle beslis onrein wees. 36'n Fontein of ondergrondse opgaarplek vir water sal egter rein wees, maar iemand wat aan karkasse daarin raak, sal onrein wees. 37Wanneer van hulle karkasse val op enige saad vir saailinge wat uitgeplant moet word, sal dit beslis rein wees. 38Maar wanneer water op saad gegooi word en van hulle karkasse val dan daarop, is die saad vir julle onrein.
39“ ‘ Wanneer enige van die diere wat julle mag eet, vrek, sal iemand wat aan die karkas raak, onrein wees tot die aand. 40Iemand wat van die karkas eet, moet sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand. En iemand wat die karkas gedra het, moet ook sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand.
41“ ‘ Enige dier wat op die grond kruip, is beslis afstootlik. Dit mag nie geëet word nie. 42Van alles wat op die pens seil, van alles wat op vier pote beweeg – ook dié wat baie pote het – ja, van alles wat op die grond kruip, mag julle nie eet nie, want hulle is beslis vir julle afstootlik. 43Moet julleself nie deur enige van hierdie kruipende diere afstootlik maak nie. Julle mag julle nie met hulle verontreinig en daardeur onrein word nie; 44 want Ek is die Here, julle God. Julle moet julleself heilig hou. Wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julleself nie verontreinig met diere wat op die grond kruip nie, 45want Ek is die Here wat julle uit Egipte laat optrek het om vir julle 'n God te wees. Wees dan heilig, want Ek is heilig.
46“ ‘Dit is die voorskrifte oor die diere en voëls en al die lewende wesens wat in die waters wemel en al die lewende wesens wat op die grond krioel, 47 sodat julle kan onderskei tussen wat onrein en wat rein is, en tussen diere wat geëet mag word en dié wat nie geëet mag word nie.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid