Klaagliedere van Jeremia 3

3
Derde treurlied: Wanhoop en hoop
א ALEF
1 Ek is die man wat ellende beleef het
deur die slae van die Here se gramskap.
2 Hy het my gedryf,
my in die donker laat loop, sonder lig.
3 Ja, Hy het sy hand teen my gelig,
telkens weer, die hele dag.
ב BET
4 Hy het my vleis en vel verteer,
my bene gebreek.
5 Hy het my beleër,
my omring met bitterheid en moeite.
6 Hy het my in donker plekke laat bly
soos dié wat lankal dood is.
ג GIMEL
7 Hy het 'n muur rondom my gebou,
uitkom kan ek nie;
Hy het my boeie van brons swaar gemaak.
8 Selfs al skree ek en roep om hulp,
sluit Hy Hom af vir my gebed.
9Met gekapte klip het Hy my pad toegebou,
Hy het my paaie laat kronkel.
ד DALET
10 Hy is 'n beer wat my voorlê,
'n leeu in skuilplekke.
11Hy het my paaie verlê, my braak laat lê,
my 'n woesteny gemaak.
12 Hy het sy boog gespan,
my as teiken opgestel vir die pyl.
ה HE
13 Die pyle uit sy koker
het Hy in my niere laat indring.
14 Ek word uitgelag deur al my mense;
hulle spotlied klink heeldag op.
15 Met bitter kruie het Hy my versadig,
my in oormaat wildeals laat drink.
ו WAW
16 Hy het my tande op gruis laat afslyt;
Hy het my in die as vertrap.
17Vrede is my ontneem,
die goeie het ek vergeet.
18 Ek het gesê: My toekoms
en my hoop op die Here het verdwyn.
ז ZAJIN
19Dink aan my nood
en my swerwersbestaan,
aan die wildeals en gif.
20 Wanneer ek diep daaroor nadink,
raak ek terneergedruk.
21 Dít roep ek in herinnering,
daarom het ek hoop:
ח GET
22 Dit is deur die troue liefde
van die Here dat ons
nie omgekom het nie,
ja, sy ontferming ken geen einde nie.
23 Dit is elke oggend weer nuut –
groot is u getrouheid.
24 My erfdeel is die Here, sê ek;
daarom hoop ek op Hom.
ט TET
25 Goed is die Here
vir hulle wat op Hom wag,
vir die mens wat na Hom soek.
26 Goed is dit om stil te hoop
op die verlossing van die Here.
27 Goed is dit vir 'n jong man
om 'n juk in sy jeug te dra.
י JOD
28 Hy moet alleen sit in stilte,
want die Here het dit op hom gelê.
29 Hy moet maar sy gesig in die stof hou;
miskien is daar hoop.
30 Hy moet sy wang draai
na dié wat hom slaan;
laat hy versadig word van skande.
כ KAF
31 My Heer verwerp beslis nie
die mens vir ewig nie;
32 maar as Hy iemand bedroef het,
ontferm Hy Hom met die volle omvang
van sy troue liefde.
33Hy verdruk en bedroef
mensekinders teen sy sin.
ל LAMED
34 Dat al die gevangenes
van die aarde vertrap word;
35dat die reg van 'n mens
voor die Allerhoogste geskend word;
36dat enige mens se regsaak verydel word –
sien my Heer dit nie?
מ MEM
37 Wie sê iets en dit gebeur
as my Heer dit nie gebied het nie?
38Kom sowel die goeie as die slegte
nie uit die mond van die Allerhoogste nie?
39Wat kla 'n mens terwyl hy nog leef,
'n jong man oor die straf op sy sonde?
נ NUN
40 Laat ons ons handelswyse
ondersoek en toets,
en laat ons na die Here terugkeer.
41Laat ons ons harte saam met
ons hande ophef na God
in die hemel.
42 Ons het oortree;
ons was opstandig.
U het ons nie vergewe nie.
ס SAMEK
43 U het U in toorn gehul
en ons agtervolg;
U het genadeloos doodgemaak.
44 U het U afgeskerm met 'n wolk
waardeur geen gebed kan dring nie.
45 Uitvaagsels en vullis
het U ons gemaak onder die volke.
פ PE
46 Al ons vyande
het hulle mond vol oor ons.
47 Angs en afgrond het ons lot geword,
verwoesting en ineenstorting.
48 Uit my oë vloei strome water
oor die ineenstorting
van die dogter van my volk.
ע AJIN
49Sonder onderbreking,
sonder einde, bly my trane loop,
50 totdat die Here uit die hemel
neerkyk en dit sien.
51Hoe pynlik om al die dogters
van my stad so te sien!
צ TSADE
52 Verbete en sonder rede
het my vyande my soos 'n voël gejag.
53 Hulle het my lewe
in 'n opgaarput uitgedoof
en klippe op my gegooi.
54 Die water het tot oor my kop gestyg
en ek het gedink ek is verlore.
ק KOF
55 Ek roep u naam, o Here,
uit die diepste put.
56 U het my stem gehoor.
Moet tog nie u ore sluit
vir my geroep om uitkoms nie.
57 U het na my toe gekom
op die dag toe ek na U geroep het.
U het gesê: “Moenie bang wees nie.”
ר RESJ
58 U, my Heer, het my regsaak behartig;
U het my lewe gered.
59U, Here, het die onreg
wat my aangedoen is, gesien;
lewer 'n regverdige uitspraak oor my.
60U het al hulle wraakgierigheid gesien,
al hulle planne vir my.
שׁ SJIN
61 U het hulle uittarting gehoor, Here,
al hulle planne teen my,
62alles wat oor my teenstanders se lippe kom,
en hulle geskinder oor my die hele dag.
63Of hulle sit en of hulle opstaan,
kyk tog, hulle spotlied gaan oor my.
ת TAW
64 U, o Here, sal hulle
volgens die werke
van hulle hande vergeld.
65U maak hulle harte onbeskaamd;
mag u vloek oor hulle kom!
66U sal hulle in toorn vervolg
en hulle uitroei onder die hemel van die Here.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid