Job 41:1-25

Job 41:1-25 AFR20

Niemand is so roekeloos dat hy hom sal wakker maak nie. En wie is die een wat dan voor My sal standhou? Wie het al teen My standpunt ingeneem, sodat Ek hom moes vergoed? Alles onder die hemel behoort aan My. Ek sal nie swyg oor sy ledemate, oor die saak van geweldige krag en sy mooi vorm nie. Wie het al sy bokleed afgestroop? En sy dubbele pantser – wie dring daardeur? Die deure van sy gesig, met sy verskriklike tande reg rondom – wie het dit al oopgemaak? Sy rug het rye skilde, hulle sit styf teen mekaar, dig verseël. Die een so na aan die ander, nie eers lug kan daartussen deurbeweeg nie. Hulle kleef aan mekaar, sluit so dig dat hulle nie geskei kan word nie. Wanneer hy nies, flits daar ligte, sy oë is soos die ooglede van die dagbreek. Uit sy bek kom fakkelligte, vuurvonke spat daaruit; uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n aangeblaasde, gloeiende kookpot. Sy asem laat gloeiende kole vlam vat, 'n vlam kom uit sy bek. In sy nek setel sterkte, en voor hom uit dans krag. Die skubbe van sy lyf kleef aan mekaar, is aan hom gegiet – onbeweeglik. Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n onderste maalklip. Wanneer hy opkom, is magtiges vreesbevange, deins hulle terug vir die breek van die water. 'n Swaard wat hom wel bereik, hou nie stand nie, nie 'n spies, wapen of pylpunt nie. Yster is vir hom soos strooi, brons soos verrotte hout. 'n Pyl laat hom nie vlug nie, klippe uit 'n slingervel verander vir hom in strooi. 'n Knuppel is vir hom soos strooi, hy lag vir die suising van 'n kromswaard. Onder aan hom is die skerp punte van potskerwe; hy sleep 'n dorsslee oor die modder. Hy laat die diep waters soos 'n pot kook; die groot water maak hy soos 'n pot waarin salf berei word. Agter hom laat hy 'n glinsterende pad – mens sou dink die diep waters is grys hare. Op die grond bestaan sy gelyke nie, hy wat gemaak is om nie te vrees nie. Op al wat hoog is, sien hy neer; hy is koning oor al die trotse diere.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Job 41:1-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid