JOB 41:1-25

JOB 41:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Die krokodil is wreed wanneer jy hom wakker maak. “As mense bang is vir 'n krokodil, wie kan dan voor Mý bly staan? Alles op die aarde behoort aan My. Niemand kan sê dat Ek iets vir hom skuld nie. “Ek wil ook praat oor die liggaamsdele van die krokodil, en Ek wil praat oor hoe sterk en goed gebou hy is. Niemand kan hom van voor aanval en sy vel afslag nie, sy vel is soos 'n harnas. Niemand kan sy kakebene oopmaak nie, almal is bang vir sy tande. Die rye skubbe op sy rug lê vas teen mekaar, so vas dat die wind nie daardeur kan waai nie. Die skubbe is so vas teen mekaar dat niemand hulle kan losmaak van mekaar nie. Wanneer die krokodil nies, dan lyk dit soos vuurvlamme, en sy oë is so rooi soos die son vroeg in die oggend. Daar kom vuur uit sy bek, die vuurvlamme skiet uit sy bek. Daar kom stoom uit sy neusgate, soos uit 'n pot wat kook. Sy asem steek vuur aan die brand, daar kom vlamme uit sy bek. Sy nek is baie sterk, almal skrik wanneer hulle hom sien. Die sagste deel van sy liggaam is so hard soos metaal. Hy is vir niks bang nie, sy hart is so hard soos klip, so hard soos die onderste maalklip. Wanneer hy opkom uit die water, dan skrik almal wat sterk is, hulle vlug wanneer hy die water slaan met sy stert. Dit help nie om hom te steek met 'n swaard nie, ook nie met 'n spies of 'n pyl nie. Yster en brons is vir hom soos kaf, soos vrot hout. Hy vlug nie vir 'n pyl en boog nie, klippe uit 'n slingervel maak hom nie seer nie. 'n Knopkierie kan niks doen aan hom nie, en hy lag wanneer mense spiese na hom gooi. Die skubbe op sy pens is soos die stukkies van 'n kleipot, waar hy loop, daar lyk dit of iemand 'n dors-slee oor die grond gesleep het. Hy laat die diep water kook soos 'n pot, hy laat die water skuim soos 'n pot vol medisyne. Wanneer 'n krokodil swem, dan lê daar 'n blink streep agter hom, dit lyk of daar skuim lê op die diep water. Ook op die grond kan niemand hom wen nie, hy is vir niks bang nie. Hy dink dat al die trotse diere minder belangrik is as hy, hy is hulle koning.”

JOB 41:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou? Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne. Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie. Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit — wie kan daarin deurdring? Die deure van sy gesig — wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking. 'n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met 'n vaste seël. Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie. Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar. Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad. Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit. Uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n kokende pot met biesiesvuur daarby. Sy asem laat kole ontvlam, en 'n vlam gaan uit sy mond. In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis. Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik. Sy hart is hard soos 'n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen. As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself. Raak iemand hom met die swaard — dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie. Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het. Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels. Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans. Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei 'n ware dorsslee uit op die modder. Hy laat die diepte kook soos 'n pot; die waterplas maak hy soos 'n kokende salfpot. Agter hom verlig hy die pad: 'n mens sou die watervloed aansien vir grys hare. Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees. Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.

JOB 41:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy is wreed as jy hom wakker maak. “Wie wil dan nog teen Mý standhou? Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My. “Ek wil nog verder praat oor die krokodil, oor sy krag en sy liggaamsbou. Wie kan sy bek oopmaak? Wie kan met 'n toom naby sy tande kom? Wie kan sy kakebene oopbreek, sy kakebene met die verskriklike tande? Op sy rug lê die skubbe in rye vas aan mekaar gesluit: die een so teen die ander dat die wind nie daardeur kan waai nie; die een is vas aan die ander, hulle kleef aan mekaar en kan nie geskei word nie. As hy nies, spat die vonke, sy oë is so rooi soos die daeraad. Daar kom vuur uit sy bek, die vonke waai deur die lug. Daar trek rook uit sy neusgate, soos uit 'n kokende pot op 'n vuur. Sy asem steek vure aan, daar skiet vlamme uit sy bek. Daar is groot krag in sy nek; wie hom sien, word deur angs oorval. Sy vleis is saamgepak asof dit aan hom gegiet is, dit gee nie mee nie. Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n maalklip. Sterkes vlug as hy die water roer. By die eerste rimpeling gee hulle pad. Wie hom met die swaard steek, rig niks uit nie, ook nie met 'n spies, 'n pyl of 'n assegaai nie. Yster is vir hom soos strooi, brons soos vrot hout. Met pyl en boog jaag jy hom nie op die vlug nie, klippe uit 'n slingervel is vir hom niks nie. Aan 'n knopkierie steur hy hom nie, hy lag as 'n swaard op hom afkom. Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe, soos 'n dorsslee maak dit merke op die modder. Hy laat die diep water kook soos in 'n pot, hy laat die water van die meer skuim. Agter hom lê 'n blink streep op die water, lê die diep water wit van die skuim. Op die grond is niemand sy gelyke nie, hy is 'n ondier sonder vrees. Hy kyk met minagting na diere groter as hy, hy is baas selfs oor al die groot diere.”

JOB 41:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Niemand is so roekeloos dat hy hom sal wakker maak nie. En wie is die een wat dan voor My sal standhou? Wie het al teen My standpunt ingeneem, sodat Ek hom moes vergoed? Alles onder die hemel behoort aan My. Ek sal nie swyg oor sy ledemate, oor die saak van geweldige krag en sy mooi vorm nie. Wie het al sy bokleed afgestroop? En sy dubbele pantser – wie dring daardeur? Die deure van sy gesig, met sy verskriklike tande reg rondom – wie het dit al oopgemaak? Sy rug het rye skilde, hulle sit styf teen mekaar, dig verseël. Die een so na aan die ander, nie eers lug kan daartussen deurbeweeg nie. Hulle kleef aan mekaar, sluit so dig dat hulle nie geskei kan word nie. Wanneer hy nies, flits daar ligte, sy oë is soos die ooglede van die dagbreek. Uit sy bek kom fakkelligte, vuurvonke spat daaruit; uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n aangeblaasde, gloeiende kookpot. Sy asem laat gloeiende kole vlam vat, 'n vlam kom uit sy bek. In sy nek setel sterkte, en voor hom uit dans krag. Die skubbe van sy lyf kleef aan mekaar, is aan hom gegiet – onbeweeglik. Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n onderste maalklip. Wanneer hy opkom, is magtiges vreesbevange, deins hulle terug vir die breek van die water. 'n Swaard wat hom wel bereik, hou nie stand nie, nie 'n spies, wapen of pylpunt nie. Yster is vir hom soos strooi, brons soos verrotte hout. 'n Pyl laat hom nie vlug nie, klippe uit 'n slingervel verander vir hom in strooi. 'n Knuppel is vir hom soos strooi, hy lag vir die suising van 'n kromswaard. Onder aan hom is die skerp punte van potskerwe; hy sleep 'n dorsslee oor die modder. Hy laat die diep waters soos 'n pot kook; die groot water maak hy soos 'n pot waarin salf berei word. Agter hom laat hy 'n glinsterende pad – mens sou dink die diep waters is grys hare. Op die grond bestaan sy gelyke nie, hy wat gemaak is om nie te vrees nie. Op al wat hoog is, sien hy neer; hy is koning oor al die trotse diere.”

JOB 41:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kan jy Leviatan met 'n haak uittrek? of sy tong met 'n tou wat jy laat sak? Kan jy 'n haak in sy neus steek? of sy kakebeen met 'n doring deurboor? Sal hy baie smekinge tot jou doen? sal hy sagte woorde met jou spreek? Sal hy 'n verbond met jou sluit? sal jy hom vir ewig as 'n dienskneg aanneem? Sal jy met hom speel soos met 'n voël? of wil jy hom vir jou diensmeisies bind? Sal die metgeselle 'n maaltyd van hom maak? sal hulle hom onder die handelaars verdeel? Kan jy sy vel vul met doringysters? of sy kop met visspiese? Lê jou hand op hom, dink aan die geveg, doen nie meer nie. Kyk, die hoop van Hom is tevergeefs; Niemand is so wreed wat dit waag om hom op te wek nie; wie kan dan voor my standhou? Wie het my verhinder, dat ek hom sou vergelde? alles wat onder die ganse hemel is, is myne. Ek sal sy dele nie verberg nie, ook nie sy krag of sy pragtige verhouding nie. Wie kan die gesig van sy kleed ontdek? of wie kan na hom toe kom met sy dubbele toom? Wie kan die deure van sy aangesig oopmaak? sy tande is verskriklik rondom. Sy weegskaal is sy trots, opgesluit soos met 'n digte seël. Die een is so naby aan die ander dat geen lug tussen hulle kan kom nie. Hulle is aan mekaar verbind, hulle bly aan mekaar vas, sodat hulle nie van mekaar kan skei nie. Deur sy genesings skyn 'n lig, en sy oë is soos die ooglede van die môre. Uit sy mond gaan brandende lampe, en vuurvonke spring uit. Uit sy neusgate gaan rook, soos uit 'n kookpot of pan. Sy asem steek kole aan, en 'n vlam gaan uit sy mond. In sy nek bly krag, en droefheid word voor hom in vreugde verander. Die skilfers van sy vlees is saamgevoeg: hulle is vas in hulleself; hulle kan nie geskuif word nie. Sy hart is so vas soos 'n klip; ja, so hard soos 'n stuk van die onderste meulsteen. Wanneer Hy homself oprig, is die magtiges bang; weens verbreking reinig hulle hulleself.

JOB 41:1-25 Die Boodskap (DB)

“As niemand dit sal waag om die draak te pak nie, wie kan dan enigsins dink om My aan te vat? Wie wil My uitdaag en eise aan My stel? Alles op die aarde behoort aan My. “Ek wil nog verder praat oor die krag in die draak se bene en sy hele lyf. Wie kan deur sy dik, skubberige vel sny en wie kan sy vel aftrek? Wie kan sy kake ooptrek? Sy tande is iets vreesliks. Sy skubbe op sy rug lê styf teen mekaar en beskerm hom soos ’n skild. Hulle is so dig op mekaar dat lig nie eers tussenin kan kom nie. Die skubbe sluit so dig teen mekaar dat niks tussen hulle kan inkom nie. Hulle kan nie van mekaar losgemaak word nie. “As hy nies, sien ’n mens net vonke. Sy oë is so rooi soos die son wat in die oggend opkom. Vlamme en vonke kom by sy mond uit. By sy neus borrel rook uit. Dit lyk amper soos stoom wat by ’n pot uitborrel wat op ’n vuur staan. Sy asem is so warm dat dit kole kan laat gloei, want vlamme kom by sy mond uit. “Die geweldige krag in sy nek maak mense oral waar hy gaan verskriklik bang. Sy vleis is hard en sit baie styf aan hom vas asof dit gegiet is. Sy hart is so hard soos ’n klip. Dit is so hard soos ’n maalklip. As hy opstaan, vlug selfs die gode. Hulle is bang hy verpletter hulle met sy stert. Daar is geen skerp wapen wat die draak in sy spore kan laat vassteek nie. Hy dink niks van yster nie, hy maak asof dit ’n stukkie strooi is. Hy maak met koper of dit ’n stuk verrotte hout is. Hy vlug nie as mense hom met pyle skiet nie. ’n Klip wat hom tref, maak net so min indruk op hom as ’n stukkie strooi. Jy kan hom maar met ’n kierie slaan, dit maak hom net mooi niks nie. Hy lag met minagting as hulle hom met spiese gooi. Die skubbe op sy maag is so skerp soos potskerwe. Hulle skeur die grond oop as hy homself deur die modder sleep. “As hy in die water rondspartel, lyk dit soos water wat in ’n pot kook. Die water van die meer skuim en borrel soos kokende olie. Hy los ’n blink streep agter hom op die water. Dit lyk amper of die see wit geword het van al die skuim. Daar is op aarde nie nog so ’n dier soos hy wat geen vrees ken nie. Hy dink absoluut niks van die ander diere nie, nie eers dié wat groter is as hy nie. Hy het geen respek vir hulle nie. Hy is die koning van al die diere.”

JOB 41:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Omdat die krokodil so wreed is, sal niemand dit waag om hom wakker te maak nie. Wie sal dan teenoor My kan staan? Wie wil dan aan My eise stel dat Ek moet betaal? Alles onder die hemel behoort immers aan My. “Ek wil nog praat oor die krokodil se krag en sy ontsaglike liggaamsbou en sierlike vorm. Wie kan sy vel aftrek? Wie kan sy dik pantser deurboor? Wie waag om sy bek oop te ruk? Sy verskriklike tande maak jou bang! Sy skubbe vorm ’n skild op sy rug, dig aaneengeskakel. Hulle is so dig opmekaar; geen lug kom daardeur nie. Hulle sluit so dig opmekaar; hulle skakel inmekaar en kan nie geskei word nie. As hy nies, flits daar ligte. Sy oë is rooi soos die oggendson. Vuur kom uit sy bek, vonke skiet daaruit. Rook kom uit sy neusgate soos stoom uit ’n kokende pot op ’n vuur. Sy asem steek vure aan die brand. Vlamme kom uit sy bek. Sy nek is baie sterk. Almal staan verskrik as hulle hom sien. Sy vleis is ferm saamgepak. Dit is hard, jy kan dit nie beweeg nie. Sy hart is so hard soos klip, net soos ’n meulsteen. Sterkes vlug as hy opstaan, vervul met vrees wanneer hy beweeg. Geen swaard kan hom stop nie, nóg spies, nóg pyl of skerp harpoen. Yster is vir hom soos strooi, en brons soos hout wat verrot. Hy vlug nie vir ’n pyl nie. Klippe uit ’n slingervel is vir hom soos strooi. ’n Knopkierie doen niks aan hom nie. Hy lag vir ’n werpspies wat hom tref. Sy pens is bedek met skubbe so skerp soos glas. Dit laat ’n spoor soos ’n dorsslee in die grond. Hy laat die diep water kook soos in ’n pot. Hy roer die see soos ’n pot salf. Agter hom lê ’n blink streep op die water. Die see word wit van die skuim. Daar is geen skepsel so vreesloos soos hy op die hele aarde nie. Hy is ’n trotse skepsel, die koning van die diere.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid