Johannes 21

21
Jesus se verskyning by die See van Tiberias
1Hierna het Jesus by die See van Tiberias weer aan sy dissipels verskyn. En dit is hoe Hy verskyn het: 2Saam daar bymekaar was Simon •Petrus en Thomas, wat bekend staan as Didimus, Natanael, van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander van sy dissipels. 3Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” En hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het uitgegaan en in die boot geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. 4Teen dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dit is Jesus nie. 5Jesus vra hulle toe: “My kinders, julle het seker niks om te eet nie? ” Hulle antwoord Hom: “Nee.” 6 Hy sê toe vir hulle: “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Hulle gooi dit toe uit, en vanweë die groot klomp vis was hulle nie in staat om dit in te trek nie. 7Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. 8Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. 9En toe hulle aan land kom, sien hulle daar 'n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. 10Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” 11Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. 13 Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis.
14 Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.
Petrus in sy amp herstel
15Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” 17Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei. 18Amen, amen, Ek sê vir jou: Toe jy jonger was, het jy self jou gordel vasgemaak en gegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou gordel vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. ” 19Hy het dit gesê om aan te dui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. En nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir Petrus: “Volg My!”
Jesus en die geliefde dissipel
20Toe •Petrus omdraai, sien hy dat die dissipel vir wie Jesus liefgehad het, hulle volg, die een wat ook tydens die maaltyd teen sy bors aangeleun en gevra het: “Here, wie is dit wat U gaan verraai?” 21Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Here, maar wat van hom?” 22Jesus sê vir hom: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen? Volg jy My!” 23Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sou sterf nie. Jesus het egter nie vir hom gesê dat hy nie sou sterf nie, maar: “As Ek wil hê hy moet bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen?”
Laaste opmerkings
24 Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het, en ons weet dat sy getuienis geloofwaardig is.
25 Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. As dit een vir een neergeskryf sou word, sou die wêreld self, dink ek, die •boekrolle wat geskryf sou word, nie kon bevat nie.

Tans Gekies:

Johannes 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid