Johannes 20

20
Opwekking van Jesus
(Matt 28:1-8; Mark 16:1-8; Luk 24:1-12)
1En vroegoggend, op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena tot by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon •Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 3Petrus en die ander dissipel het toe uitgegaan en na die graf gegaan. 4Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. 6Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, 7en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. 8Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. 9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. 10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.
Jesus se verskyning aan Maria Magdalena
(Matt 28:9-10; Mark 16:9-11)
11Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk 12en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. 13Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. 15Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” 16Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni! ” Dit beteken ‘Leermeester’. 17Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” 18Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het.
Jesus se verskyning aan die dissipels
(Matt 28:16-20; Mark 16:14-18; Luk 24:36-49)
19Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. 21Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ” 22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! 23 As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.”
Thomas se belydenis
24Maar Thomas, een van die twaalf, wat bekend gestaan het as Didimus, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande en my vinger nie steek in die spykermerke, en my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” 26Agt dae later was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. Terwyl die deure gesluit was, het Jesus gekom en in hulle midde gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27Daarna sê Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.” 28Thomas het vir Hom gesê: “My Here en my God!” 29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het. ”
Doel van die Evangelie
30 Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boekrol geskryf staan nie. 31Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die •Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê.

Tans Gekies:

Johannes 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid