Rigters 4

4
Debora en Barak
1Ná Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle toe oorgelewer in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Gasor regeer het, en in die hand van Sisera, die bevelvoerder van sy leër. Hy was gesetel in Garoset-Gojim. 3Die Israeliete het na die Here om hulp geroep, want Sisera het negehonderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank wreed mishandel.
4Debora, 'n profetes, die vrou van Lappidot, het in daardie tyd vir Israel as rigter opgetree. 5Sy het altyd onder die palm van Debora gesit, tussen Rama en Bet-El in die heuwelland van Efraim , en die Israeliete het na haar opgegaan vir beslissings.
6Sy het Barak, seun van Abinoam, uit Kedes in Naftali ontbied en vir hom gesê: “Het die Here, die God van Israel, nie hierdie opdrag gegee nie? ‘Gaan, trek saam op die berg Tabor! Neem tienduisend man uit die nageslag van Naftali en Sebulon saam met jou; 7dan sal Ek vir Sisera, die bevelvoerder van Jabin se leër, met sy strydwaens en troepe na jou lok, na die Kisonspruit. Ek gee hom in jou hand.’ ”
8Maar Barak het vir haar gesê: “As jy met my saamgaan, sal ek gaan; maar as jy nie met my saamgaan nie, sal ek nie gaan nie.” 9Sy sê toe: “Ek sal beslis met jou saamgaan. Dit sal egter nie tot jou eer strek op die pad waarop jy gaan nie, want in die hand van 'n vrou sal die Here Sisera oorlewer.” Debora staan toe op en gaan saam met Barak na Kedes. 10Barak het Sebulon en Naftali na Kedes opgeroep. Tienduisend man het in sy voetspore opgetrek, en Debora het saam met hom opgetrek.
11Geber, die Keniet, het van die Keniete afgeskei, van die nageslag van Gobab, Moses se skoonvader. Hy het sy tent opgeslaan by die akkerboom in Saänannim wat naby Kedes is.
12Toe hulle vir Sisera berig bring dat Barak, seun van Abinoam, na die berg Tabor opgetrek het, 13het Sisera sy hele strydwamag, negehonderd ysterstrydwaens, en al die manskappe wat by hom was, opgeroep uit Garoset-Gojim na die Kisonspruit. 14Toe sê Debora vir Barak: “Maak gereed, want vandag is die dag waarop die Here Sisera in jou hand gee. Trek die Here self nie voor jou uit nie?” Daarop het Barak van die berg Tabor afgetrek met tienduisend man agter hom. 15 Die Here het Sisera, sy hele strydwamag en sy hele leër voor Barak in verwarring gebring deur die skerpte van die swaard. Sisera het van sy strydwa afgeklim en te voet gevlug. 16Barak het egter die strydwamag en leër agtervolg tot by Garoset-Gojim. Sisera se hele leër het deur die skerpte van die swaard geval; nie een het oorgebly nie.
17Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber, die Keniet, want daar was 'n vredesooreenkoms tussen Jabin, die koning van Gasor, en die huis van Geber, die Keniet. 18Jael het uit die tent gekom, Sisera tegemoet, en vir hom gesê: “Draai af, my heer, draai af na my. Moenie bang wees nie!” Hy het na haar, na die tent afgedraai en sy het hom met 'n deken toegemaak. 19Hy sê toe vir haar: “Gee my asseblief 'n bietjie water om te drink, want ek is dors.” Sy maak toe die leersak met melk oop, en laat hom drink. Sy het hom weer toegemaak. 20Hy het vir haar gesê: “Staan by die opening van die tent en as hier iemand aankom en vir jou vra, ‘Is daar iemand hier?’ moet jy sê, ‘Nee!’ ”
21Maar Jael, die vrou van Geber, het 'n tentpen gevat en met die hamer in haar hand het sy stilletjies ingegaan na hom toe. Sy het die tentpen in sy slaap ingeslaan, sodat dit in die grond ingegaan het. Hy was vas aan die slaap van uitputting, en het gesterf.
22Juis toe Barak besig was om Sisera te agtervolg, kom Jael uit die tent, hom tegemoet, en sê vir hom: “Kom, ek sal jou die man wys wat jy soek.” Hy het saam met haar ingegaan, en kyk, daar lê Sisera dood met die tentpen deur sy slaap!
23So het God op daardie dag vir Jabin, die koning van Kanaän, die knie laat buig voor die Israeliete. 24 Die hand van die Israeliete het algaande swaarder gedruk op Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, vernietig het.

Tans Gekies:

Rigters 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid