Jakobus 3

3
Beheersing van die tong
1Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. 2Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy 'n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. 3Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. 4Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met 'n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. 5So is die tong ook 'n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek 'n groot hoop hout aan die brand! 6Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. 7Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. 8Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. 9Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. 10Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 11'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 12'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of 'n druiwestok vye nie? 'n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.
Hemelse en aardse wysheid
13Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. 14Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. 15Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. 16Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. 17Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 18En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.

Tans Gekies:

Jakobus 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid