Jesaja 64

64
1 As U maar die hemel
wou oopskeur en afdaal –
die berge sal bewe
van u teenwoordigheid.
2Soos vuur struikgewas laat opvlam,
soos water deur vuur
tot kookpunt kom,
so sal die nasies bewe
vanweë u teenwoordigheid,
wanneer U u Naam bekend maak
aan u teenstanders.
3 Toe U ontsagwekkende dade
gedoen het wat ons
nie verwag het nie,
het U afgedaal;
vanweë u teenwoordigheid
het die berge gebewe.
4 Van die vroegste tye af
het niemand dit gehoor nie,
daarvan verneem nie,
het geen oog 'n god gesien nie,
buiten U, wat optree
vir dié wat op Hom wag.
5U kom elkeen tegemoet
wat met vreugde
doen wat reg is,
wat op u paaie aan U bly dink.
Kyk, U was toornig,
en ons het gesondig.
Ons het lank
in sonde verkeer –
sal ons verlos word?
6Ons almal het geword
soos iets wat onrein is,
soos 'n besoedelde kledingstuk
is al ons geregtighede.
Ons almal het verwelk soos blare,
en soos die wind het ons
sondeskuld ons weggedra.
7Daar is niemand
wat u Naam aanroep
of homself wakker skud
om aan U vas te hou nie;
want U het u gesig vir ons verberg,
ons oorgelewer aan die greep
van ons sondeskuld.
8Maar nou, Here,
U is ons Vader.
Ons is die klei
en U is ons pottebakker –
ons almal is die werk van u hande.
9Moenie mateloos
toornig wees nie, Here;
moenie vir altyd
ons sondeskuld onthou nie!
Ja, sien tog in:
Ons almal is u volk.
10U heilige stede
het woestyn geword:
Sion is 'n woestyn,
Jerusalem het 'n woesteny geword.
11 Ons heilige en pragtige •tempel,
waar ons voorouers U geloof het,
het 'n prooi van vuur geword –
alles wat vir ons kosbaar is,
het 'n puinhoop geword.
12 Sal U oor hierdie gebeure
U bedwing, Here?
Sal U bly swyg,
ons mateloos verneder?

Tans Gekies:

Jesaja 64: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid