Jesaja 52

52
1 Word wakker!
Word wakker!
Beklee jou met jou krag, Sion!
Trek jou pragtige klere aan,
Jerusalem, heilige stad!
Want in jou sal onbesnedenes
en onreines nie langer kom nie.
2Skud die stof van jou af!
Staan op,
gaan sit op jou troon, Jerusalem!
Maak jou los van die bande om jou nek,
krygsgevangene, dogter van Sion!
3 Ja, so sê die Here: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.” 4 Ja, so sê my Heer, die Here: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk. 5Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die Here. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die Here, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis. 6Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ”
7 Hoe lieflik op die berge
is die voete van 'n boodskapper van vreugde,
een wat vrede verkondig,
wat 'n goeie boodskap bring,
wat verlossing verkondig,
wat vir Sion sê:
“Jou God heers as koning!”
8Luister na jou wagte,
hulle roep uit,
saam jubel hulle;
want reg voor hulle oë
aanskou hulle die terugkeer
van die Here na Sion.
9 Breek saam uit in gejubel,
puinhope van Jerusalem!
Want die Here troos sy volk,
Hy koop Jerusalem los.
10 Die Here ontbloot sy heilige arm
voor die oë van al die nasies.
Al die uithoeke van die aarde ervaar
die verlossing deur ons God.
11 Wyk uit!
Wyk uit!
Trek weg van daar af!
Aan iets onreins
moet julle nie raak nie.
Trek weg uit haar midde!
Hou julle rein, draers van die Here
se tempelgereedskap!
12 Julle mag egter nie oorhaastig
wegtrek nie,
nie op die vlug slaan nie;
want die Here
gaan voor julle uit;
die God van Israel
vorm julle agterhoede.
13“ Kyk, my dienskneg
sal suksesvol wees,
hy sal uitstyg, uittroon,
en baie verhewe wees.
14 Soos baie ontsteld was oor hom
– so onmenslik misvormd
was sy voorkoms,
sy gestalte nie meer
dié van 'n mens nie –
15net so sal hy baie nasies verbyster;
konings sal oor hom swyg.
Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien;
en wie nie gehoor het nie, begryp. ”

Tans Gekies:

Jesaja 52: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid