Jesaja 51

51
1“Luister na My,
julle wat geregtigheid nastreef,
julle wat die Here soek!
Kyk na die rots waaruit julle gekap is,
na die steengroef waaruit
julle gegrawe is.
2 Kyk na Abraham, julle vader,
en na Sara, wat julle met pyn
in die wêreld gebring het.
Ja, as een persoon het Ek hom geroep,
maar Ek het hom geseën
en hom talryk gemaak.”
3 Ja, die Here het Sion getroos,
Hy het al haar puinhope getroos.
Hy het haar woestyn soos Eden gemaak,
haar Araba soos die tuin van die Here.
Vreugde en blydskap word in haar gevind,
dankliedere en die klank van begeleiding.
4“ Luister mooi na My, my volk,
my nasie, hoor My aan!
Want onderrig sal van My uitgaan,
en my beslissing sal 'n lig
vir die volke wees.
Binnekort 5 bring Ek
my geregtigheid nader.
My verlossing is op pad;
my arms sal reg verskaf aan die volke.
Op My wag die eilande,
op my arm is hulle hoop gevestig.
6 Kyk op na die hemel,
bekyk die aarde daaronder,
want die hemel –
soos rook sal dit uitmekaar dryf,
en die aarde –
soos 'n kleed sal dit verslyt.
Wie daarop woon –
soos muggies sal hulle sterf.
My verlossing duur vir altyd,
en my geregtigheid
sal nie verbreek word nie.
7 Luister na My,
julle wat geregtigheid ken –
volk met my wet in hulle harte!
Moenie bang wees
vir die bespotting deur mense nie;
vir hulle beledigings
moet julle nie skrik nie.
8 Want soos 'n kleed sal motte
hulle wegvreet;
soos wol sal kleremotte
hulle wegvreet.
My geregtigheid sal vir altyd duur,
my verlossing van geslag tot geslag.”
9 Word wakker, word wakker,
beklee U met krag, arm van die Here!
Word wakker, soos in die verre verlede,
in die tyd van vergange geslagte!
Is dit nie U wat Rahab
aan stukke gekap het,
die seemonster deurboor het nie?
10 Is dit nie U wat die see
drooggelê het,
die water van die groot oervloed,
wat in die dieptes van die see
'n pad gemaak het,
sodat dié wat losgekoop is,
kon deurtrek nie?
11 Wie deur die Here vrygekoop is,
sal terugkeer,
hulle sal in Sion aankom met jubelkrete;
met ewige vreugde
sal hulle gekroon wees.
Blydskap en vreugde
sal hulle oorweldig;
verdriet en gesug sal wegvlug.
12“Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos.
Wie is jy dan dat jy bang is
vir gewone mense wat sal sterf,
vir mensekinders wat bestem is
om soos gras te sterf,
13dat jy die Here
wat jou gemaak het, vergeet
– Hy wat die hemel oopgespan
en die aarde gegrondves het –
dat jy voortdurend, daglank,
bewe vir die woede van die verdrukker
wanneer hy daarop uit is om te verwoes?
Waar is die woede van die verdrukker?
14 Wie in boeie vooroor geboë sit,
sal binnekort losgelaat word;
hy sal nie sterf nie,
nie na die grafkuil gaan nie;
aan brood sal dit hom nie ontbreek nie.
15 Want Ek is die Here jou God,
wat die see in beweging bring,
sodat sy golwe dreun.”
Die Here, Heerser oor alle magte
is sy Naam.
16 “Ek gee my woorde in jou mond;
met die skadu van my hand bedek Ek jou,
om so die hemel oop te span
en die aarde te grondves,
en om vir Sion te sê,
‘Jy is my volk.’ ”
17 Skud jouself wakker!
Skud jouself wakker!
Staan op, Jerusalem,
jy wat uit die hand van die Here
die beker van sy woede gedrink het!
Die beker wat 'n mens laat steier,
het jy gedrink, leeg geslurp.
18Daar is niemand
wat haar lei nie,
nie een van al die kinders
waaraan sy geboorte gegee het nie.
Daar is niemand
wat haar hand vashou nie,
nie een van al die kinders
wat sy grootgemaak het nie.
19 Hierdie dubbele rampe het jou getref
– wie sal jou jammer kry? –
verwoesting en ineenstorting,
hongersnood en swaard.
Wie sal jou troos?
20 Jou kinders –
hulle is in 'n beswyming,
hulle lê op die hoek van elke straat,
soos 'n gemsbok in 'n vangnet.
Hulle het oorgenoeg gehad
van die Here se woede,
van die dreiging van jou God.
21 Daarom, luister tog hierna,
magtelose, jy wat dronk is,
maar nie van wyn nie.
22 So sê jou Heer, die Here,
jou God, wat sy volk se saak behartig:
“Kyk, Ek het die beker wat 'n mens laat steier
uit jou hand geneem,
die beker van my woede.
Jy sal dit nie nog 'n keer hoef te drink nie.
23 Ek sal dit plaas in die hand
van hulle wat jou geteister het,
hulle wat oor jou lewe gesê het,
‘Lê plat, sodat ons oor jou kan loop!’
Jy het jou rug gehou asof dit grond is,
asof dit 'n straat is vir hulle
wat verbygaan.”

Tans Gekies:

Jesaja 51: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid