Jesaja 40:18-25

Jesaja 40:18-25 AFR20

Met wie wil julle God vergelyk? Watter afbeelding wil julle langs Hom stel? 'n Afgodsbeeld wat 'n vakman gegiet het, wat 'n smid met goud oorgetrek het, 'n smid met silwer beslaan het? As 'n wydingsgeskenk kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 'n Vaardige vakman soek hy vir hom om 'n afgodsbeeld te maak wat nie omkantel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie? Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie? Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde; die bewoners daarvan is soos koringkrieke. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos 'n doek, dit oopsprei soos 'n tent, sodat mense daar kan woon. Dit is Hy wat maghebbers tot niks maak; die regeerders van die aarde maak Hy 'n nietigheid. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars skiet hulle steggies wortel in die grond, of Hy het reeds op hulle geblaas, en hulle verdor; dan lig 'n stormwind hulle op soos strooi. “Met wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?” vra die Heilige.