JESAJA 40:18-25 - Compare All Versions
JESAJA 40:18-25 ABA (Bybel vir almal)
Dink julle iemand kan soos God wees? Wat kan julle langs Hom sit wat soos Hy sal wees? Dink julle 'n afgodsbeeld is soos die Here? Nee. 'n Beeld is iets wat 'n ambagsman maak en met goud oortrek en met silwerkettings vasmaak. Of 'n beeld is iets wat 'n ambagsman uit harde hout sny en vas laat staan sodat dit nie omval nie. Weet julle nie? Het julle nie gehoor nie? Het niemand dit vir julle vertel nie? Kan julle nie verstaan nie? Dit is God wat die aarde gemaak het! Sy troon is bokant die hemeldak, en die mense op die aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Dit is God wat die hemeldak styftrek, soos 'n spinnekop se net of soos 'n tent. Hy maak belangrike mense onbelangrik, Hy laat mense wat regeer, soos niks word. Hulle is soos plante: Wanneer hulle nog klein is, dan laat God die warm wind oor hulle waai, en hulle word droog en die stormwind waai hulle weg soos kaf. Die heilige God vra: “Dink julle daar is iemand soos Ek? Is daar iemand wat soos Ek is?
JESAJA 40:18-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel. By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
JESAJA 40:18-25 AFR83 (Afrikaans 1983)
Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie! Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon. Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.
JESAJA 40:18-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Met wie wil julle God vergelyk? Watter afbeelding wil julle langs Hom stel? 'n Afgodsbeeld wat 'n vakman gegiet het, wat 'n smid met goud oorgetrek het, 'n smid met silwer beslaan het? As 'n wydingsgeskenk kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 'n Vaardige vakman soek hy vir hom om 'n afgodsbeeld te maak wat nie omkantel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie? Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie? Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde; die bewoners daarvan is soos koringkrieke. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos 'n doek, dit oopsprei soos 'n tent, sodat mense daar kan woon. Dit is Hy wat maghebbers tot niks maak; die regeerders van die aarde maak Hy 'n nietigheid. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars skiet hulle steggies wortel in die grond, of Hy het reeds op hulle geblaas, en hulle verdor; dan lig 'n stormwind hulle op soos strooi. “Met wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?” vra die Heilige.
JESAJA 40:18-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Met wie sal julle God dan vergelyk? of watter gelykenis sal julle met Hom vergelyk? Die werker smelt 'n gesnede beeld, en die goudsmid sprei dit oor met goud en giet silwer kettings. Hy wat so arm is dat hy geen spysoffer het nie, kies 'n boom wat nie verrot nie; hy soek vir hom 'n listige werker om 'n gesnede beeld voor te berei wat nie wankel nie. Het julle nie geweet nie? het julle nie gehoor nie? is dit julle nie van die begin af vertel nie? het julle nie van die fondamente van die aarde af verstaan nie? Dit is Hy wat op die kring van die aarde sit, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; wat die hemel uitsprei soos 'n voorhangsel en dit uitsprei soos 'n tent om in te woon; Dit maak die vorste tot niet; Hy maak die regters van die aarde tot nietigheid. Ja, hulle sal nie geplant word nie; ja, hulle sal nie gesaai word nie; ja, hulle stam sal nie wortel skiet in die aarde nie; en hy sal ook op hulle blaas, en hulle sal verdor, en die storm sal hulle wegneem soos stoppels. Met wie sal julle My dan vergelyk, of sal ek gelyk wees? sê die Heilige.
JESAJA 40:18-25 DB (Die Boodskap)
Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf? Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie. Hy is ook nie soos ’n man se afgod wat ’n beeldhouer vir hom uit harde hout gemaak het wat op sy voete kan staan nie. Weet julle nie? Verstaan julle dan nie wat al van die begin van die wêreld af vir julle vertel is nie? Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly. Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie. Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai. Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?”
JESAJA 40:18-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? Kan jy Hom vergelyk met die afgodsbeeld? Dis deur ’n vakman gemaak, ’n goudsmid het dit met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie. Weet julle dan nie? Verstaan julle nie? Is dit dan nie in die begin aan julle vertel nie? Weet julle nie Wie die aarde gegrondves het nie? God sit op sy troon bokant die hemelkoepel. Die mense op aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Hy sprei die hemel uit soos ’n gordyn, Hy sprei dit oop soos ’n tent om in te woon. Hy oordeel oor vername mense en verlaag regeerders van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Hulle is skaars geplant, skaars gesaai, het skaars wortelgeskiet, of Hy blaas oor hulle en hulle verwelk en ’n stormwind waai hulle weg net soos kaf. “Met wie sal julle My vergelyk? Wie is my gelyke?” vra die Heilige Een.