Jesaja 23

23
Profesieë oor Tirus en Sidon
1 Profesie oor Tirus.
Weeklaag, handelskepe!
Want dit is verwoes,
sonder huise, sonder toegang.
In die land van die Kittiërs
is aan hulle berig gebring.
2Wees stil,
bewoners van die eiland!
Handelaars van Sidon
wat die see oorsteek,
het jou, Tirus, gevul.
3Met die groot waters langs
was die saad van Sigor,
ja, die oes van die Nyl,
haar inkomste –
dit was wins uit die nasies.
4Skaam jou, Sidon!
Want, toevlugsoord van die see,
die see sê:
“Ek het nie ineengekrimp,
nie geboorte gegee nie;
ek het nie jong manne grootgemaak,
nie jong meisies opgevoed nie.”
5 Wanneer die berig Egipte bereik,
krimp hulle ineen
soos met die tyding oor Tirus.
6Vaar oor na Tarsis!
Weeklaag, bewoners van die eiland!
7Is dít julle uitgelate stad?
In die verre verlede
lê haar oorsprong;
haar voete het haar gedra
om tydelik ver weg te woon.
8 Wie het so teen Tirus besluit,
sy wat krone uitdeel,
wie se handelaars
•hoë amptenare is,
wie se handelslui
die geëerdes van die wêreld is?
9Die Here, Heerser oor alle magte,
het so besluit –
om die hoogmoed
van al die hoëlui te knou,
om al die geëerdes van die wêreld
met minagting te behandel.
10Bewerk jou grond soos by die Nyl,
dogter van Tarsis!
Daar is geen skeepswerf meer nie.
11Sy hand het Hy oor die see
uitgestrek;
Hy het koninkryke laat bewe.
Die Here self het 'n opdrag gegee
oor Kanaän –
dat sy vestings verdelg moet word.
12Hy het gesê:
“Jy sal nie meer uitgelate wees nie,
onteerde maagdelike dogter
van Sidon.
Die Kittiërs, as jy gereedmaak,
na hulle oorvaar –
ook daar sal jy geen rus hê nie.”
13 Kyk, die land van die Galdeërs –
dié volk bestaan nie meer nie.
Assirië het dit vir woestyndiere
bestem:
Hulle het beleëringstorings opgerig;
hulle het die land se vestings gesloop,
dit 'n bouval gemaak.
14Weeklaag, handelskepe!
Want julle toevlugsoord is verwoes.
15Op daardie dag sal Tirus vergete raak,
sewentig jaar lank,
soos die lewensdae
van een koning.
Aan die einde van sewentig jaar
sal dit met Tirus gaan
soos in die lied
oor die prostituut:
16“Neem 'n lier,
deurkruis die stad,
vergete prostituut;
bespeel dit goed,
sing baie liedjies,
sodat jy onthou word!”
17 Ná verloop van sewentig jaar sal die Here aan Tirus aandag gee. Sy sal terugkeer na haar hoereloon, sy sal hoereer met al die koninkryke van die wêreld oor die oppervlakte van die aarde heen. 18Haar handelswins en hoereloon sal aan die Here gewy wees. Dit sal nie opgegaar of weggesit word nie, maar aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon, sal haar wins behoort, sodat hulle genoeg kan eet en pragtig geklee kan gaan.

Tans Gekies:

Jesaja 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid