Jesaja 2

2
Oordeel en reiniging van Jerusalem
1 Die woord wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is in verband met Juda en Jerusalem.
2 In die laaste dae sal die berg
van die Here se huis
stewig staan as die hoogste
van die berge;
hy sal bo die heuwels uittroon.
Al die nasies sal daarheen stroom;
3 baie volke sal gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here,
na die huis van die God van Jakob,
sodat Hy ons van sy paaie kan leer,
en ons sy weë kan volg.”
Ja, uit Sion sal daar onderrig kom,
en die woord van die Here uit Jerusalem.
4Hy sal regspreek tussen die nasies,
die reg handhaaf vir talryke volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee,
en van hulle spiese snoeimesse.
Nasies sal nie meer die swaard
teen mekaar opneem nie;
hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5 Huis van Jakob,
kom, laat ons leef
in die lig van die Here.
6 Ja, U het u volk,
die huis van Jakob, verlaat
omdat daar soveel voorspellers
uit die Ooste by hulle is,
en soveel mense wat voortekens
lees soos by die Filistyne;
en van die nageslag van vreemdes
het hulle 'n oorvloed.
7Hulle land is vol silwer en goud –
daar is geen einde
aan hulle skatte nie.
Hulle land is vol perde –
daar is geen einde
aan hulle strydwaens nie.
8 Hulle land is vol nuttelose afgode;
voor hulle handewerk
buig hulle in aanbidding,
voor dit wat hulle vingers
gemaak het.
9 Mense het neergebuig,
manne het hulleself verneder.
U moet hulle nie vergewe nie!
10 Gaan skuil tussen die rotse,
kruip weg in die grond
uit vrees vir die Here,
vanweë sy verhewe glansrykheid!
11Die trotse oë van mense
word verneder,
die hoogmoed van manne
word neergeslaan.
Die Here alleen sal verhewe wees
op daardie dag.
12 Die Here, Heerser oor alle magte,
hou immers 'n dag gereed
teen alles wat verwaand en hoog is,
teen alles wat verhewe is –
dit sal neergeslaan word –
13teen al die hoë en verhewe
seders van die Libanon,
en teen al die eikebome van Basan,
14teen al die hoë berge
en al die verhewe heuwels,
15teen elke hoë toring
en elke versterkte stadsmuur,
16teen al die handelskepe
en teen al die imposante bote.
17 Die trots van mense
word neergeslaan,
die hooghartigheid van manne
word omskep in vernedering.
Die Here alleen sal verhewe wees
op daardie dag.
18Die nuttelose afgode –
met hulle is dit uit en gedaan.
19 Mense sal in die grotte
tussen rotse skuilgaan
en in gate in die grond,
uit vrees vir die Here,
vanweë sy verhewe glansrykheid,
wanneer Hy opstaan
om die aarde te verskrik.
20Op daardie dag sal mense
hulle nuttelose afgode van silwer
en hulle nuttelose afgode van goud
wat hulle vir hulleself gemaak het
om in aanbidding voor te buig,
wegwerp vir die rotte en vlermuise –
21om dan in rotsskeure
en holkranse skuil te gaan
uit vrees vir die Here,
vanweë sy verhewe glansrykheid,
wanneer Hy opstaan
om die aarde te verskrik.
22Hou op om julle te bekommer
oor die mens;
hy is net 'n asem in 'n neus!
Ja, waarom moet met hom
rekening gehou word?

Tans Gekies:

Jesaja 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid