Hebreërs 4

4
1Laat ons daarom versigtig wees, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog bly staan, dat dit nie mag blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Want net soos aan hulle, is die goeie boodskap ook aan ons verkondig. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gebaat nie, omdat hulle nie deur die geloof verenig is met dié wat dit wel gelowig aangehoor het nie. 3Ons wat tot geloof gekom het, gaan immers wel die rus in – soos Hy gesê het,
“So het Ek in my toorn gesweer,
‘Hulle sal beslis nie in my rus
ingaan nie!’ ”
al was God se werke reeds vanaf die grondlegging van die wêreld afgehandel. 4Hy het immers êrens aangaande die sewende dag gesê: “God het op die sewende dag van al sy werke gerus.” 5En in hierdie gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!” 6Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – 7bepaal Hy weer 'n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
moenie julle harte verhard nie!”
8As Josua hulle dan tot rus gebring het, sou Hy nie gepraat het van 'n ander dag daarna nie. 9Daar bly dus steeds 'n sabbatsrus oor vir die volk van God. 10Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.
12 Want die woord van God
is lewend en kragtig,
en skerper as enige
tweesnydende swaard.
Dit dring deur tot by die raakpunt
tussen siel en gees,
tussen gewrig en murg,
en beoordeel die hart
se voornemens en gedagtes.
13Ja, niks wat geskape is,
is vir Hom verborge nie,
maar alles is oop en bloot voor sy oë,
Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die •Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. 15 Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. 16Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.

Tans Gekies:

Hebreërs 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid