Hebreërs 1

1
God se openbaring deur sy Seun
1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.
Hom het Hy aangestel
as erfgenaam van alle dinge,
en deur Hom het Hy
ook die wêreld geskep.
3Hy is die uitstraling
van God se heerlikheid,
en die ewebeeld van sy wese.
Hy hou alles in stand
deur sy magtige woord;
en nadat Hy die reiniging
van sondes bewerk het,
het Hy gaan sit aan die regterhand
van die Majesteit in die hoogtes.
4Hy is hoog bo die engele verhef,
net soos wat Hy 'n Naam geërf het
wat uitnemender as hulle s'n is.
Die Seun verhewe bo engele
5Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê:
“Jy is my Seun;
vandag het Ek jou verwek.”
En ook:
“Ek sal vir Hom 'n Vader wees,
en Hy sal vir My 'n Seun wees.”
6Maar wanneer Hy die •Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy:
“En laat al die engele van God
Hom aanbid.”
7Oor die engele sê Hy:
“Hy maak sy engele stormwinde,
en sy dienaars vuurvlamme.”
8Maar vir die Seun sê Hy:
“U troon, o God,
is vir ewig en ewig,
en die septer van geregtigheid
is die septer van u koninkryk!
9U het •geregtigheid lief,
en U haat wetteloosheid;
daarom, o God, het u God
U gesalf met olie van vreugde,
meer as u vriende.”
10En:
“U het aan die begin, o Here,
die aarde se fondamente gegrondves,
en die hemele is die werk van u hande.
11Hulle sal vergaan,
maar U bly bestaan.
Soos 'n kledingstuk
sal hulle almal verslyt,
12 en soos 'n mantel
sal U hulle oprol;
soos 'n kledingstuk
sal hulle vervang word,
maar U bly dieselfde, en u jare
sal nie tot 'n einde kom nie.”
13Aan wie van die engele het Hy ooit gesê:
“Sit aan my regterhand,
totdat Ek jou vyande
'n voetbank vir jou voete gemaak het.”
14Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie?

Tans Gekies:

Hebreërs 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid