Habakuk 2

2
Oordeel oor die Galdeërs
1 Op my wagpos wil ek gaan staan;
ek wil stelling inneem
op die vestingmuur,
op die uitkyk wees om agter te kom
wat Hy vir my gaan sê
en wat ek mense moet antwoord
oor my verwyt.
2 Die Here het my toe geantwoord; Hy het gesê:
“Skryf die openbaring neer;
skryf dit duidelik op kliptafels,
sodat iemand dit maklik kan lees.
3 Want die visioen wag nog
vir die vasgestelde tyd;
dit getuig van die einde
en sal nie teleurstel nie.
As dit talm, wag daarop,
want dit kom vir seker,
dit sal nie uitbly nie.
4Kyk, hy wat nie opreg is nie,
kwyn weg –
maar die regverdige –
deur sy betroubaarheid
sal hy lewe.
5 Buitendien, wyn is verraderlik.
Die sterke is vermetel,
maar hy sal nie sy doel bereik nie,
hy wat sy keel so wyd oopsper
soos die •doderyk,
hy wat soos die dood is,
wat nie versadig word nie,
wat al die nasies
by hom versamel het,
en al die volke om hom
bymekaargemaak het.
6“ Sal juis hulle nie almal saam
oor hom 'n spotlied
laat opklink nie,
ja, 'n spreuk, raaisels oor hom?
Daar sal gesê word,
‘Wee hom wat dít vermeerder
wat nie aan hom behoort nie
– hoe lank nog? –
wat homself met bruikleen belas.
7Sal dié wat van jou rente gaan eis,
nie skielik opstaan nie,
ja, dié vir wie jy beangs is,
wakker skrik,
en jy dan die buit vir hulle word?
8 Omdat jy baie nasies
geplunder het,
sal al die volke wat oorbly,
jou plunder
oor die bloedvergieting
van mense,
die geweld teen lande, stede
en almal wat daar woon.’
9“ Wee hom wat onregverdige wins
maak vir sy huis,
om sy nes in die hoogte te bou
en homself van die mag
van onheil te red.
10“Jy het skande bewerk vir jou huis;
deur 'n einde te maak
aan baie volke,
het jy jou lewe verbeur.
11 Want klippe roep uit die mure
om hulp,
en balke uit die houtwerk
antwoord hulle.
12“ Wee hom wat stede bou
met bloed,
en dorpe vestig met onreg.
13 Kyk, is dit nie die Here,
Heerser oor alle magte,
wat dit beskik,
dat volke hulle afsloof
vir wat opgaan in rook,
en nasies hulleself moeg maak
vir niks nie?
14 Ja, die aarde sal gevul word
met die kennis
van die heerlikheid van die Here
soos water die see oordek.
15“Wee hom wat sy medemens
laat drink,
wat sy gif daarby voeg,
hulle selfs dronk maak,
sodat hy hulle geslagsdele
kan bekyk.
16Ja, jy gaan met skande
versadig word, in plaas van eer.
Drink jy ook, en ontbloot jouself!
Die beker in die regterhand
van die Here
sal by jou verbykom,
en skande sal jou eer oortref.
17 Want die geweld teen Libanon
sal jou oorweldig
en die vernietiging van diere
sal jou beangs laat,
ja, die bloedvergieting van mense,
die geweld teen lande, stede
en almal wat daar woon.
18“ Watter nut het 'n gesnede beeld
as sy maker hom uitgekerf het?
Dit is 'n gegote beeld
en 'n leermeester van leuens.
Ja, hy vertrou op die maaksel
wat hy self geskep het.
Wat baat dit om stom,
nuttelose afgodsbeelde te maak?
19 Wee hom wat vir 'n stuk hout sê,
‘Word tog wakker!’
en ‘Staan op!’ vir 'n stom klip.
Kan dié ding jou iets leer?
Kyk, hy is wel oorgetrek
met silwer en goud,
maar daar is geen lewensasem in nie.
20 Maar die Here
is in sy •heilige •tempel –
wees stil voor Hom, o ganse aarde!”

Tans Gekies:

Habakuk 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid