Genesis 4:5-12

Genesis 4:5-12 AFR20

Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. Die HERE vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak. Die HERE het vir Kain gevra: “Waar is Abel, jou broer?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” Die HERE het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.”

Video vir Genesis 4:5-12