GENESIS 4:5-12 - Compare All Versions

GENESIS 4:5-12 ABA (Bybel vir almal)

Maar die Here was nie tevrede met Kain en sy offer nie. Kain het toe baie kwaad geword en sy mond was dik. Die Here vra toe vir Kain: “Hoekom is jy kwaad en hoekom is jou mond dik? As jy doen wat reg is, dan sal jy gelukkig wees. Maar as jy doen wat verkeerd is, dan doen jy sonde. Die sonde is altyd naby jou en wil jou vang, maar jy moet die sonde oorwin.” Kain het vir sy broer Abel gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel vermoor. Toe vra die Here: “Kain, waar is jou broer Abel?” En Kain antwoord: “Ek weet nie. Ek pas nie my broer op nie.” Die Here sê toe vir Kain: “Wat het jy gedoen? Jy het jou broer doodgemaak en sy bloed het op die grond geval. Daardie bloed roep My en vra My om jou te straf. Daarom vervloek Ek jou. Jy moet nou weggaan van hierdie plek waar jou broer se bloed op die grond geval het. Wanneer jy in die grond werk, dan sal die plante nie daar groei nie. Jy sal van een plek na 'n ander plek rondswerf en jy sal nie 'n huis hê nie.”

GENESIS 4:5-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie — die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan. Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter? En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.

GENESIS 4:5-12 AFR83 (Afrikaans 1983)

maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk. Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak. Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal 'n doellose swerwer op aarde word!”

GENESIS 4:5-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. Die HERE vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak. Die HERE het vir Kain gevra: “Waar is Abel, jou broer?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” Die HERE het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.”

GENESIS 4:5-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar vir Kain en sy offer het hy geen agting gehad nie. Kain was baie kwaad, en sy aangesig het geval. Toe sê die HERE vir Kain: Waarom is jy toornig? en waarom het jou aangesig geval? As jy goed doen, sal jy nie aanvaar word nie? en as jy nie goed doen nie, lê die sonde voor die deur. En na jou sal sy begeerte wees, en jy sal oor hom heers. Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom gedood. Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy sê: Ek weet nie: Is ek my broer se wagter? En hy sê: Wat het jy gedoen? die stem van die bloed van jou broer roep na My van die grond af. En nou is jy vervloek van die aarde af wat haar mond oopgemaak het om jou broer se bloed uit jou hand te ontvang; Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie voortaan aan jou sy krag gee nie; 'n vlugteling en 'n swerwer sal jy op die aarde wees.

GENESIS 4:5-12 DB (Die Boodskap)

Maar Hy het nie Kain en sy offer aanvaar nie. Kain was woedend hieroor. Hy het moedeloos geraak. Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk? As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.” Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is jou broer Abel?” Kain het vererg geantwoord: “Hoe moet ek nou weet? Is ek dan my broer se oppasser? Moet ek hom dag en nag oppas?” En die Here het gesê: “Wat het jy in hemelsnaam aangevang? Luister net ’n bietjie hoe skreeu jou broer se bloed. Dit roep van die bloedbevlekte aarde af na My. Jy word nou summier van die grond verban. Jy sal nooit weer van die grond kan leef nie, want jy het die grond gedwing om jou broer se bloed te drink; die bloed van jou broer wat jy doodgemaak het. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie. Jy sal vir altyd ’n eensame swerwer op aarde wees.”

GENESIS 4:5-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig. “Hoekom is jy so kwaad?” vra die HERE vir hom. “Hoekom hang jou gesig so? Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde hurk by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan. Daarna vra die HERE vir Kain: “Waar is Abel jou broer?” “Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!” Maar die HERE sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het! Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”