Genesis 35

35
Jakob terug in Kanaän
1 God het vir Jakob gesê: “Maak gereed, trek op na Bet-El en woon daar. Bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op vlug was voor jou broer Esau.” 2 Jakob sê toe vir sy huis en almal wat by hom was: “Verwyder die vreemde gode wat in julle midde is en reinig julle; trek ander klere aan. 3 Kom ons maak gereed en trek op na Bet-El, sodat ek daar 'n altaar kan bou vir die God wat my geantwoord het op die dag toe ek in die nood was, en by my was op die pad wat ek gegaan het.” 4 Hulle het toe al die vreemde gode wat hulle by hulle gehad het, vir Jakob gegee, ook die ringe wat aan hulle ore was. Hy het dit onder die groot terebintboom wat by Sigem is, weggesteek. 5 Hulle het toe weggetrek, en 'n verskrikking van God af het oor die dorpe rondom hulle geheers, sodat hulle nie die seuns van Jakob agtervolg het nie.
6 Toe Jakob by Lus, dit is Bet-El, in die land Kanaän aankom, hy en al die mense wat by hom was, 7het hy daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, omdat God Hom daar aan hom geopenbaar het toe hy op vlug was voor sy broer.
8 Debora, die oppasser van Rebekka, is daar oorlede. Sy is begrawe onderkant Bet-El, onder die eikeboom. Hulle het dit die Eikeboom van Gehuil genoem.
9 God het weer aan Jakob verskyn by sy aankoms uit Paddan-Aram, en hom geseën. 10 God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob. Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, dit sal jou naam wees.” So het Hy hom die naam Israel gegee. 11 Verder het God vir hom gesê:
“Ek is God, die Almagtige.
Wees vrugbaar en vermeerder.
'n Nasie, 'n skare van nasies,
sal van jou afstam;
selfs konings sal uit jou liggaam voortkom.
12 Die land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het,
aan jou gee Ek dit;
aan jou nageslag ná jou
gee Ek die land.”
13 Hierna het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gepraat het. 14 Jakob het toe op die plek waar Hy met hom gepraat het, 'n gedenksteen, 'n gedenksteen van klip, opgerig en 'n •drankoffer daaroor uitgegooi. Hy het ook olie daarop gegooi. 15 Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.
16 Hulle het van Bet-El af weggetrek, maar daar was nog 'n hele ent pad oor om by Efrata uit te kom, toe Ragel geboorte gegee het. Sy het 'n moeilike bevalling gehad. 17Terwyl sy so swaar gekry het met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie, want ook hierdie een is 'n seun vir jou.” 18Terwyl haar lewe wegvloei, want sy was sterwend, het sy hom die naam Ben-Oni gegee. Sy vader het hom egter Benjamin genoem. 19 So het Ragel gesterf; en sy is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. 20 Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig. Dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe.
21Israel het toe verder getrek en sy tent opgeslaan anderkant Migdal-Eder. 22 Terwyl Israel in dié streek gebly het, het Ruben by sy vader se byvrou Bilha gaan slaap. Israel het daarvan te hore gekom.
Jakob het twaalf seuns gehad.
23 Die seuns van Lea: Ruben, Jakob se eersgeborene, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
24Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin.
25Die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Naftali.
26Die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser.
Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.
Isak se dood
27 Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as •vreemdelinge gewoon het. 28Isak het honderd-en-tagtig jaar lank geleef. 29 Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

Tans Gekies:

Genesis 35: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid