Genesis 28:10-22

Genesis 28:10-22 AFR20

Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! En kyk, die HERE staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!” Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!” Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as 'n kopstut neergesit het, geneem en dit as 'n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus. Jakob het toe 'n gelofte afgelê: “As God met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die HERE my God wees, en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, 'n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid