GENESIS 28:10-22

GENESIS 28:10-22 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het van die stad Berseba na die stad Haran gegaan. Toe die son ondergegaan het, het hy by 'n plek gekom waar hy die nag kon slaap. Hy het 'n klip onder sy kop gesit en hy het aan die slaap geraak. Hy het gedroom dat daar 'n leer op die aarde staan, en die boonste punt van die leer is in die hemel. Die engele van God het op en af geklim teen die leer. Toe kom staan die Here by hom en Hy sê vir Jakob: “Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en die God van jou pa Isak. Hierdie land waar jy nou is, sal Ek vir jou en jou nageslag gee. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal nog meer grond kry, na die weste, na die ooste, na die noorde en na die suide. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou en jou nageslag sal seën. Ek sal by jou wees en Ek sal jou beskerm op elke plek waar jy gaan en Ek sal jou terugbring na hierdie land. Ek sal jou nooit los nie totdat Ek gedoen het wat Ek vir jou belowe het. Dit is seker.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie.” Hy het bang geword en gesê: “Hierdie plek laat my bang word. Dit is die huis van God, dit weet ek nou, dit is die poort van die hemel.” Toe Jakob die oggend vroeg opstaan, neem hy die klip wat onder sy kop was, en hy sit dit regop sodat dit 'n gedenksteen kan wees. Hy het toe olyf-olie op die klip uitgegooi en hy het die plek Bet-El genoem. Die plek se naam was voorheen Lus. Jakob het belowe en gesê: “God sal my God wees as Hy by my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waar ek gaan loop. Hy sal my God wees as Hy vir my kos en klere sal gee en my veilig laat terugkom by my pa se familie. Dan sal hierdie klip wat ek regop gesit het sodat dit 'n gedenksteen kan wees, vir my 'n plek wees waar God is. Dan sal ek ook vir U 'n tiende teruggee van alles wat U vir my gee. Dit belowe ek.”

GENESIS 28:10-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan. Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

GENESIS 28:10-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.” Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal 'n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U 'n tiende gee.”

GENESIS 28:10-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! En kyk, die HERE staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!” Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!” Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as 'n kopstut neergesit het, geneem en dit as 'n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus. Jakob het toe 'n gelofte afgelê: “As God met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die HERE my God wees, en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, 'n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.”

GENESIS 28:10-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Jakob het uit Berseba uitgetrek en na Haran gegaan. En hy het op 'n sekere plek verlig en die hele nag daar gebly, omdat die son ondergegaan het; en hy het van die klippe van daardie plek geneem en dit vir sy kussings neergesit en op daardie plek gaan lê om te slaap. En hy het gedroom, en daar staan 'n leer op die aarde, en die top daarvan reik tot aan die hemel; en kyk, die engele van God klim daarop en daal daarop neer. Kyk, die HERE het daarbo gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak; die land waarop jy lê, sal Ek dit aan jou gee en aan jou nageslag; En jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en na die ooste en na die noorde en na die suide; en in jou en in jou nageslag sal al die geslagte van die aarde wees geseënd. Kyk, Ek is met jou en sal jou bewaar op al die plekke waarheen jy gaan, en sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat voordat Ek gedoen het wat Ek met jou gespreek het nie. En Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek; en ek het dit nie geweet nie. En hy het bang geword en gesê: Hoe verskriklik is hierdie plek! dit is niks anders as die huis van God nie, en dit is die poort van die hemel. En Jakob het die môre vroeg opgestaan en die klip wat hy vir sy kussings gesit het, geneem en dit as 'n pilaar opgerig en olie bo-op dit gegooi. En hy het daardie plek Bet-el genoem, maar die naam van daardie stad is eers Lus genoem. Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my wil wees en my sal bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en vir my brood gee om te eet en klere om aan te trek, Sodat ek in vrede na die huis van my vader terugkom; dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees; en van alles wat jy my gee, sal ek sekerlik die tiendes aan jou gee.

GENESIS 28:10-22 Die Boodskap (DB)

Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan. Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak. Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim. Skielik het die Here daar by hom gestaan en met hom gepraat: “Jakob, Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en jou pa, Isak. Die grond waarop jy nou lê en slaap, sal Ek eendag vir jou en jou nageslag gee. Jou nageslag sal so ontelbaar wees soos die stof van die aarde. Hulle sal ook oral oor die aarde wees, in die weste en die ooste, in die noorde en die suide. Oor die hele wêreld sal dit met mense goed gaan omdat hulle deel van jou en jou nageslag is. Onthou een ding, Jakob: Ek is by jou. Ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan. Eendag sal Ek jou weer na hierdie plek en hierdie land terugbring. Ek sal jou nie los voordat Ek al my beloftes aan jou waar gemaak het nie.” Jakob het wakker geskrik en verdwaas om hom rondgekyk. Hy sê toe: “Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie.” Vreesbevange sê hy toe: “Dis ’n verskriklike plek hierdie. Dis niks anders as die Here se blyplek nie. Daar waar ek geslaap het, begin die poort na die hemel toe.” Vroeg die volgende oggend het Jakob sy klipkussing gevat en dit regop gesit. Dit het toe soos ’n pilaar gelyk en hy het olie daarop uitgegiet. Jakob het die naam van die plek verander. Voorheen is die dorp Lus genoem, maar hy het dit na Bet-El verander. Dit beteken “Huis van God”. Jakob het ook ’n gelofte afgelê: “As God werklik by my sal wees, my op die pad na Paddan-Aram sal beskerm, my kos en klere sal gee en my weer veilig na my ouers sal laat terugkeer, sal die Here ook my God wees.” Verder het hy gesê: “Die klip wat ek hier regop gesit het en wat soos ’n pilaar lyk, sal ’n simbool van die Here se teenwoordigheid wees. En, Here, van alles wat U my gee, sal ek ’n tiende aan U teruggee.”

GENESIS 28:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob is van Berseba af weg en het na Haran toe vertrek. Teen sononder kom hy by ’n geskikte plek aan waar hy kon oornag. Hy neem toe een van die klippe van die plek en sit dit by sy kop neer. Toe gaan lê hy om te slaap. Dié nag droom hy dat hy ’n leer sien wat op die aarde staan met die bopunt in die hemel. Engele van God het daarmee op en af geklim. Die HERE het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde. Hulle sal versprei na die ooste en die weste, en na die noorde en die suide. Al die mense op aarde sal deur middel van jou nageslag geseën word. Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die HERE is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!” Hy was egter ook bang en het gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek! Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!” Die volgende oggend staan hy vroeg op. Hy neem die klip by sy kop en sit dit regop as ’n gedenkteken. Daarna gooi hy olie daarop uit. Hy noem die plek toe Bet-El, “huis van God”. Die dorp daar naby was voorheen bekend as Lus. Toe lê Jakob ’n eed af en sê: “As U, o God, by my sal wees, my op hierdie reis sal beskerm en vir my kos en klere gee sodat ek weer veilig terugkom by my ouerhuis, dan sal U, HERE, my God wees. Hierdie gedenkteken sal ’n plek wees waar God aanbid word. Van alles wat U vir my gee, sal ek vir U ’n tiende afstaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid