Galasiërs 6

6
1Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie.
2Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van •Christus. 3As iemand werklik meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4Elkeen moet sy eie dade beoordeel. Dan sal hy trots kan wees slegs wat homself betref, en nie wat 'n ander persoon betref nie; 5 want elkeen moet sy eie las dra.
6Wie onderrig in die Woord ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit.
7Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8 Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.
Finale waarskuwing
11 Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif! 12Mense wat deur die uiterlike 'n indruk wil maak – dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van •Christus vervolg sal word nie. 13Want diegene wat hulle laat besny, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word, sodat hulle hulle op julle liggame kan beroem. 14Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek my op iets beroem nie, behalwe op die kruis van ons Here Jesus Christus, waardeur die wêreld vir my gekruisig is, en ek vir die wêreld. 15Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel 'n nuwe skepping. 16Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming – en vir die Israel van God!
17 Ten slotte: Laat niemand my verder moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam.
Seëngroet
18 Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle gees, broers! •Amen.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid