Galasiërs 5

5
1Vryheid is waarvoor •Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie!
Waarskuwing teen die besnydenis
2Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle julle laat besny, sal •Christus vir julle waardeloos wees. 3Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. 4Julle wat op grond van die wet geregverdig wil word, julle is van Christus afgesny – julle het die genade verbeur! 5Want dit is deur die Gees, op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. 6Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is.
7Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te bly? 8Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 9 'n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. 10Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie anders as ek sal dink nie; maar die een wat julle in verwarring bring, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees.
11En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. 12Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself heeltemal ontman!
'n Lewe deur die Gees
13Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. 14Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie!
16Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. 17 Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. 18As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie.
19 Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie.
22Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie.
24 Almal wat aan •Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly. 26Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid