Galasiërs 3

3
Evangelie in Galasië
1O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus •Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? 2Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? 4Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het?
Die Skrif as bewys van die evangelie
6Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 7 Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. 8En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9 Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. 10Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.”
11En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” 12En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.”
13•Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” 14Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.
Voorrang van die verbond bo die wet
15Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. 16En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus. 17Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. 18Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur 'n belofte geskenk.
Voorrang van die geloof bo die wet
19Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 20'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één!
21Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. 22Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo.
23Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. 24 Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. 25Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie.
Gelowiges as kinders en erfgename van God
26 Want deur die geloof
is julle almal kinders van God
in •Christus Jesus,
27want julle wat in Christus gedoop is,
het Christus soos 'n kleed aangetrek.
28Daar is nou nie meer Jood of Griek,
nie meer slaaf of vryman,
nie meer manlik en vroulik nie;
want julle almal is één
in Christus Jesus!
29En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid