Esegiël 28

28
Profesie teen die koning van Tirus
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, sê vir die leier van Tirus, ‘So sê my Heer, die Here:
“Omdat jou hart hoogmoedig
geraak het, het jy gesê,
‘Ek is 'n god;
in die tuiste van die gode
woon ek in die hart van die seë.’
Maar jy is net 'n mens,
nie 'n god nie.
Jy stel jou insig gelyk
aan die insig van gode!
3 Kyk, jy is slimmer as Danel!
Geen geheim is vir jou duister nie!
4Deur jou wysheid en jou insig
het jy vir jou vermoë verwerf,
goud en silwer in jou skatkamers weggesit.
5Deur jou buitengewone handelsvernuf
het jy jou vermoë vergroot.
Maar jou hart het hoogmoedig
geraak oor jou rykdom.
6Daarom,” so sê my Heer, die Here,
“omdat jy jou insig gelykstel
aan die insig van gode,
7 daarom, kyk, Ek bring vreemdes na jou,
die gewelddadigstes van die nasies.
Hulle sal die swaard trek
teen die skoonheid
wat jou wysheid gebring het;
hulle sal jou skitterende prag ontwy.
8Na die grafkuil sal hulle jou laat afdaal;
jy sal die dood van 'n deurboorde
sterf in die hart van die seë.
9 Sal jy steeds sê, ‘Ek is 'n god’,
in die teenwoordigheid van hom
wat jou doodmaak,
en as jy – 'n mens, nie 'n god nie –
in die hande is van hulle
wat jou deurboor?
10 Jy sal die dood
van 'n onbesnedene sterf
aan die hand van vreemdes,
want Ek het gepraat.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.’ ”
11Die woord van die Here het tot my gekom: 12“Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom, ‘So sê my Heer, die Here:
“Jy was die toonbeeld
van voortreflikheid,
vol wysheid, volmaak in skoonheid.
13 In Eden, die tuin van God,
daar was jy.
Jy was bedek met alle soorte
edelstene: •karneool, •topaas,
•akwamaryn, •chrisoliet,
•oniks, •jaspis, •lasuursteen,
•malagiet en •smarag.
Van goud was die insetsels en graverings
aan jou bedekking.
Die dag toe jy geskep is,
was dit gereed
14by 'n glansende gerub
met vlerke wat beskutting bied.
Ek het jou daar geplaas;
op die heilige berg van gode was jy;
tussen klippe van vuur
het jy rondgestap.
15Onberispelik was jy in jou optrede
vanaf die dag dat jy geskep is,
totdat onreg in jou ontdek is.
16Deur jou uitgebreide handel
is jou binneste met geweld gevul;
jy het gesondig.
Ek het jou as 'n onheilige uitgewerp,
weg van die godeberg af.
'n Gerub met vlerke wat beskut,
het jou tussen die klippe
van vuur uit verdryf.
17Jou hart het hoogmoedig geword
oor jou skoonheid;
jy het jou wysheid nutteloos gemaak
oor jou skitterende prag.
Op die grond het Ek jou neergegooi;
voor konings het Ek so met jou gemaak
dat hulle hulle in jou kan verlustig.
18 Oor jou baie sondeskuld
weens jou onregmatige handelspraktyke,
het jy jou heiligdomme ontheilig.
Ek het vuur uit jou binneste laat kom;
dit het jou verteer.
Ek het jou soos as op die grond gemaak
voor die oë van almal wat na jou kyk.
19Almal onder die volke
wat jou geken het,
was verslae oor jou.
Jy het 'n verskrikking geword,
jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”
Profesie teen Sidon
20Die woord van die Here het tot my gekom: 21“ Mensekind, draai jou gesig na Sidon, profeteer teen haar 22 en sê, ‘So sê my Heer, die Here:
“Dit is Ek teen jou, Sidon!
Ek sal roem verwerf in jou midde.
Hulle sal besef dat Ek die Here is
wanneer Ek oordele in haar voltrek.
Ek sal Myself in haar
as die Heilige betoon.
23Ek sal 'n epidemie in haar loslaat;
daar sal bloed in haar strate wees;
die deurboordes sal binne-in haar lê
deur die swaard wat aan alle kante
teen haar gerig is.
Hulle sal besef dat Ek die Here is.
24“ ‘ “Daar sal nie meer vir die huis van Israel duwweltjies wees wat skerp is, en dorings wat steek van die kant van almal om hulle, almal wat hulle minag nie, want hulle sal besef dat Ek, die Heer, die Here is.”
25“ ‘So sê my Heer, die Here: “Wanneer Ek die huis van Israel bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is, sal Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. Israel sal woon op die grond wat Ek aan my dienskneg Jakob gegee het. 26 Hulle sal veilig daarop woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek oordele voltrek oor almal wat hulle minag aan alle kante. Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid