Esegiël 27

27
Klaaglied oor Tirus
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Jy, mensekind, hef oor Tirus 'n klaaglied aan; 3sê vir Tirus, die stad wat lê by die poorte na die see, wat handel dryf met ander volke, met baie eilande, ‘So sê my Heer, die Here:
“Tirus, jy sê,
‘Ek is volmaak in skoonheid.’
4In die hart van die seë lê jou gebied;
jou bouers het jou skoonheid vervolmaak.
5Met sipreshout uit Senir
het hulle albei jou sykante gebou.
'n Seder uit die Libanon
het hulle geneem
om vir jou 'n mas te maak.
6Met eikebome uit Basan het hulle
jou roeispane gemaak.
Jou dek het hulle ivoorkleurig
gemaak met dennehout
uit die eilande van die Kittiërs.
7Van veelkleurige fyn linne
uit Egipte was jou seil,
om vir jou te dien as vaandel.
Pers en purperrooi materiaal
uit die eilande van Elisa
was jou kajuitbedekking.
8Inwoners van Sidon en Arwad
was jou roeiers,
Jou ervare manne, Tirus,
was aan boord,
hulle was jou seemanne.
9Veterane van Gebal
en sy ervare manne was aan boord
om jou lekplekke te kalfater.
“ ‘ “Al die skepe op see en hulle matrose
was in jou hawe
om van jou ruilware te bekom.
10 Persië, Lud en Put
was in jou leër as krygsmanne.
Skild en helm het hulle
in jou opgehang;
dit is hulle wat aan jou
luister verleen het.
11Manne uit Arwad en Gelek
was rondom op jou mure,
en manne uit Gammad –
in jou torings was hulle.
Hulle het hulle rondeskilde rondom
teen jou mure opgehang;
dit is hulle wat jou skoonheid
vervolmaak het.
12 Tarsis het met jou handel gedryf
vanweë die oorvloed
van al die rykdom.
Met silwer, yster, tin en lood
het hulle betaal vir jou handelsware.
13Jawan, Tubal en Meseg,
hulle was jou handelaars.
Met lewende mense en koperware
het hulle betaal vir jou ruilware.
14Uit Bet-Togarma was daar perde,
trekperde en muile;
hulle het dit vir jou handelsware
aangebied.
15Die mense van Dedan
was jou handelaars;
baie eilande was jou handelsvennote.
Olifanttande en ebbehout
het hulle teruggebring
as skatplig aan jou.
16Edom het met jou handel gedryf
vanweë die oorvloed goedere
wat jy vervaardig.
Met •malagiet, purperrooi
en veelkleurig geweefde materiaal,
fyn linne, pêrels en •chalcedoon
het hulle vir jou handelsware betaal.
17 Juda en die land Israel,
hulle was jou handelaars.
Met koring uit Minnit, vye,
heuning, olyfolie en balsemgom
het hulle betaal vir jou ruilware.
18Damaskus het met jou handel gedryf
vanweë die oorvloed goedere
wat jy vervaardig,
die oorvloed van al jou rykdom.
Met wyn uit Gelbon, wol uit Sagar
19en wyn uit Usal het hulle
vir jou handelsware betaal.
Bewerkte yster, kassia en kalmoes
was onder jou ruilware.
20Dedan het met jou handel gedryf
in saalkleedjies vir rydiere.
21Arabië en al die leiers
van Kedar,
hulle was jou handelsvennote.
Met ramlammers, skaap- en bokramme,
daarmee het hulle
met jou handel gedryf.
22Die handelaars van Skeba en Rama,
hulle was jou handelaars.
Met die keur van allerlei speserye,
allerlei edelstene en goud
het hulle betaal vir jou handelsware.
23Haran, Kanne en Eden
handelaars van Skeba,
Assirië en Kilmad het met jou
handel gedryf.
24Hulle was jou handelaars
in swierige mantels,
pers en veelkleurig geweefde
sjaals en kleurryke matte.
In gevlegte en geknoopte toue
het hulle met jou handel gedryf.
25Handelskepe het jou ruilware
vir jou vervoer.
“ ‘ “Jy het vol geword,
was baie swaar belaai
daar in die hart van die seë.
26In onstuimige waters
het jou roeiers jou gebring.
Die oostewind het jou gebreek
in die hart van die seë.
27 Jou rykdom, jou handelsware,
jou ruilware,
jou matrose, jou seemanne,
hulle wat jou lekplekke kalfater,
dié wat jou ruilware verhandel,
al die krygsmanne in jou,
ja, saam met die hele
strydmag in jou midde,
hulle sink weg in die hart van die seë
op die dag van jou val.
28Van die harde hulpgeroep
van jou seemanne
bewe die weivelde.
29Hulle verlaat hulle bote –
almal wat roeispane vashou;
die matrose, al die seevaarders –
op die land gaan staan hulle.
30 Hulle laat oor jou hulle stem hoor;
bitterlik skreeu hulle dit uit;
hulle strooi stof op hulle koppe;
in die as rol hulle.
31 Hulle skeer kaal kolle
op hulle koppe oor jou,
hulle bind rouklere om,
hulle huil oor jou met 'n verbitterde siel –
dit is 'n bitter rouplegtigheid.
32 Met hulle geweeklaag
hef hulle vir jou 'n klaaglied aan;
hulle sing 'n klaagsang oor jou,
‘Wie was soos Tirus,
wie was soos sy,
midde-in die see?’
33Toe jou handelsware uitgegaan
het op die seë,
het jy baie volke versadig;
met die oorvloed van jou rykdom
en ruilware
het jy konings van die aarde
ryk gemaak.
34 Nou is jy gebreek deur die seë,
in die dieptes van die water.
Jou ruilware en jou hele strydmag
wat in jou was, het weggesink.
35Al die bewoners van die eilande
staan verslae oor jou.
Hulle konings sidder onbedaarlik;
hulle gesigte is verwronge van angs.
36 Handelaars onder die volke
fluit oor jou;
jy het 'n verskrikking geword;
jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 27: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid