Esegiël 12

12
Ballingskap vir die inwoners van Jerusalem
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Mensekind, jy woon midde-in die rebelse huis – hulle wat oë het om te sien, maar hulle sien nie, hulle wat ore het om te hoor, maar hulle hoor nie; want hulle is 'n rebelse huis. 3Jy, mensekind, kry jou bagasie gereed vir 'n ballingskap, en gaan oordag, voor hulle oë, in ballingskap. Jy moet voor hulle oë van jou plek na 'n ander plek in ballingskap gaan. Miskien sien hulle in dat hulle die rebelse huis is. 4Jy moet jou bagasie, soos die bagasie vir 'n ballingskap, in die dag voor hulle oë uitdra, maar jy self moet, terwyl hulle toekyk, teen die aand uitgaan soos mense maak wat in ballingskap gaan. 5Voor hulle oë moet jy deur die muur breek en jou goed daardeur uitdra. 6Voor hulle oë moet jy dit op jou skouer tel. Jy moet in die skemerdonker uitgaan en jou gesig moet jy bedek, sodat jy nie die land sien nie; want as 'n teken gee Ek jou vir die huis van Israel. ”
7Ek het toe gemaak presies soos ek beveel is. My bagasie het ek in die dag uitgedra asof dit bagasie vir 'n ballingskap was, en teen die aand het ek eiehandig deur die muur gebreek. In die skemerdonker het ek met die bagasie vertrek. Op my skouer het ek dit gedra, voor hulle oë.
8Die woord van die Here het die volgende oggend tot my gekom: 9“ Mensekind, het die huis van Israel, die rebelse huis, nie vir jou gevra wat jy besig is om te doen nie? 10Jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Hierdie uitspraak is van toepassing op die leiers in Jerusalem, en die hele huis van Israel in wie se midde hulle is .” ’ 11“Sê, ‘Ek is vir julle 'n teken. Presies wat ek gedoen het, sal aan hulle gedoen word. In ballingskap, in gevangenskap, sal hulle gaan.’ 12“Die leier in hulle midde sal bagasie op sy skouer tel in die skemerdonker en vertrek. In die muur sal hulle 'n gat maak om hom daardeur te laat uitgaan. Sy gesig sal hy bedek, sodat geen oog hom sien nie, en hy ook nie die land sien nie. 13 Ek sal my vangnet oor hom uitsprei; hy sal in my jagnet gevang word, en Ek sal hom na Babel, na die land van die Galdeërs, neem. Maar daardie land sal hy nie sien nie, en daar sal hy sterf.
14“ Almal om hom, sy helpers en al sy troepe, sal Ek in al die windrigtings uitstrooi. Met ontblote swaard sal Ek hulle agtervolg. 15Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek hulle versprei onder die nasies, hulle verstrooi in ander lande. 16Maar Ek sal 'n klein aantal van hulle laat oorbly ná die swaard, die hongersnood en pessiekte, sodat hulle onder die nasies waarheen hulle gaan, kan vertel van al hulle afstootlike dade. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”
17Die woord van die Here het tot my gekom: 18“Mensekind, jou voedsel moet jy met bewing eet, en jou water met siddering en kommer drink. 19Dan moet jy vir die volk van die land sê, ‘So sê my Heer, die Here oor die inwoners van Jerusalem in die land Israel: “Hulle voedsel sal hulle met kommer eet, en hulle water sal hulle bewend drink, omdat Jerusalem se land en alles daarop verlate sal wees vanweë die geweld van al die inwoners daarvan. 20Die bewoonde dorpe sal in puin lê, en die land sal 'n woesteny wees. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” ’ ”
Vervulling van profesieë
21Die woord van die Here het tot my gekom: 22“ Mensekind, wat is hierdie spreuk van julle oor die land Israel, ‘Die dae gaan verby, en van elke visioen kom daar niks’? 23“Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ek maak 'n einde aan hierdie spreuk. Hulle sal dit nie meer in Israel as spreuk gebruik nie.” Maar kondig vir hulle aan, “Naby is die dae, en ook die vervulling van elke visioen; 24 want daar sal nie meer bedrieglike visioene of vals godsprake in die huis van Israel wees nie. 25 As Ek, die Here, iets aankondig, sal dit wat Ek aankondig, gebeur. Dit sal nie meer uitgestel word nie, want nog in júlle tyd, rebelse huis, sal Ek iets aankondig en dit uitvoer.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
26Die woord van die Here het tot my gekom: 27“Mensekind, kyk, die huis van Israel sê, ‘Die visioen wat hy sien, is vir baie dae later, en hy is besig om oor verre tye te profeteer.’ 28Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Nie een van my woorde sal meer uitgestel word nie. Wat ek aankondig, sal gebeur.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid