Esegiël 11

11
1'n Gees het my opgelig en my na die poort aan die oostekant van die huis van die Here, geneem, die poort wat oos front. In die ingang van die poort was daar vyf-en-twintig manne! Tussen hulle het ek die volksleiers Jaäsanja, seun van Assur, en Pelatja, seun van Benaja, gesien.
2Die Here sê toe vir my: “Mensekind, dit is die manne wat onreg beplan en slegte advies gee in hierdie stad. 3 Dit is hulle wat dink, dit is nie nodig om binnekort huise te herbou nie; die stad is 'n pot en ons is die vleis. 4Daarom, profeteer teen hulle, profeteer, mensekind!”
5Toe val die Gees van die Here op my en die Here sê vir my: “Jy moet sê, ‘So sê die Here: “Dit is wat julle dink, huis van Israel; Ek weet wat in julle gedagtes opkom. 6Julle het baie mense in hierdie stad laat sneuwel; julle het sy strate vol gesneuweldes gemaak.” 7Daarom, so sê my Heer, die Here: “Julle gesneuweldes wat julle in die stad neergelê het, hulle is die vleis, en die stad is die pot. Maar julle gaan Ek uit die stad neem. 8'n Swaard, dit vrees julle; 'n swaard sal Ek dan oor julle bring,” is die uitspraak van my Heer, die Here. 9“Ek sal julle uit die stad laat uitgaan en julle oorgee in die hand van vreemdes. Ek sal vonnisse oor julle voltrek. 10 Deur die swaard sal julle val op die grondgebied van Israel. Ek sal julle oordeel, en julle sal besef dat Ek die Here is. 11Hierdie stad sal nie vir julle 'n pot wees nie, en julle sal nie die vleis daarin wees nie. Op die grondgebied van Israel sal Ek julle oordeel. 12 Julle sal besef dat Ek die Here is, wie se vaste voorskrifte julle nie gevolg het nie, en wie se beslissings julle nie uitgevoer het nie. Julle het eerder die beslissings van die nasies rondom julle uitgevoer.” ’ ”
13 Terwyl ek profeteer, het Pelatja, seun van Benaja, gesterf. Ek het neergeval met my gesig teen die grond en met 'n harde stem uitgeroep: “Ag, Here, my Heer! Volslae vernietiging, dit is wat U doen aan dié wat oorgebly het van Israel! ”
14 Die woord van die Here kom toe tot my: 15“Mensekind, dit gaan oor jou volksgenote, jou broers, jou mense met die reg om grond terug te koop, ja, die hele huis van Israel, hulle almal vir wie die inwoners van Jerusalem nou sê, ‘Hulle is ver van die Here af. Aan ons is hierdie land gegee as eiendom.’ 16Sê daarom, ‘So sê my Heer, die Here: “Alhoewel Ek hulle ver verwyder het tussen die nasies, en hulle verstrooi het in ander lande, het Ek vir 'n kort rukkie vir hulle 'n heiligdom geword in die lande waarheen hulle gegaan het.” ’ 17Sê daarom vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ek sal julle bymekaarmaak tussen die volke; Ek sal julle byeenbring uit die lande waarin julle verstrooi is. Ek sal vir julle die land Israel gee. 18Hulle sal daarheen gaan, en hulle sal al die verfoeilike afgode en al die afstootlike dade in die land daaruit verwyder. 19 Ek sal vir hulle 'n onverdeelde hart gee. 'n Nuwe gees sal Ek in hulle binneste laat posvat. Ek sal die hart van klip uit hulle liggame verwyder, en Ek sal vir hulle 'n hart van vlees gee, 20 sodat hulle my vaste voorskrifte sal volg en my beslissings sal nakom en uitvoer. Hulle sal vir My 'n volk wees en Ek sal vir hulle 'n God wees. 21 Wat harte betref: Hulle wie se harte hulle verfoeilike afgode en hulle afstootlike dade bly volg – hulle optrede sal Ek op hulle eie koppe laat neerkom,” is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
22 Daarop het die gerubs hulle vlerke gelig, en die wiele was langs hulle. Die heerlikheid van die God van Israel was heel bo, oor hulle. 23Die heerlikheid van die Here het uit die stad uit opgegaan en tot stilstand gekom bo die berg wat oos van die stad is.
24Toe het 'n gees my opgelig en, in 'n visioen gestuur deur die Gees van God, my na Galdeë geneem, na die ballinge. Die visioen wat ek gesien het, het toe van my af opgegaan, 25en ek het aan die ballinge al die woorde van die Here meegedeel wat Hy my in die visioen laat ervaar het.

Tans Gekies:

Esegiël 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid