Prediker 9:1-6
Prediker 9:1-6 AFR20
Ja, aan al hierdie dinge het ek aandag gegee, om al hierdie dinge op te helder: Die regverdiges en die wyses en hulle dade is in God se hand, of dit nou liefde is of haat. Mense weet nie wat alles vir hulle voorlê nie. Alles is dieselfde vir almal: Daar wag een lot vir die regverdige en die goddelose; vir die goeie, die reine en die •onreine; vir die een wat offer en vir hom wat nie offer nie. Dit gaan met die sondaar soos met die goeie, met die een wat 'n eed aflê, soos met hom wat bang is om 'n eed af te lê. Dit is die slegte by alles wat onder die son gebeur: dat daar een lot is vir almal; ook dat die hart van mense vol boosheid is, en dat domheid in hulle harte is gedurende hulle lewe; en daarna – na die dooies! Maar vir wie nog by al die lewendes is, is daar hoop. Ja, 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Die lewendes weet immers dat hulle sal sterf, maar die dooies weet niks nie; daar is vir hulle geen verdere beloning nie. Ja, die herinnering aan hulle het vervaag; hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer het lankal verdwyn; en vir ewig het hulle geen deel meer aan alles wat onder die son gebeur nie.


