PREDIKER 9:1-6 - Compare All Versions
PREDIKER 9:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)
Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind: God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan met die een wat 'n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om 'n eed af te lê. Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood. Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.
PREDIKER 9:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
WANT dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir 'n eed. Dit is 'n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe! Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
PREDIKER 9:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ek het oor dit alles nagedink en probeer verstaan hoe dit is dat dié wat reg doen, en dié wat wysheid het, en dit wat hulle doen, onder God se beheer is. Maar niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. Dieselfde lot wag vir alle mense, dié wat regverdig is of goddeloos, goed of sleg, rein of onrein, dié wat offer en dié wat nie offer nie. Goeie mense en sondaars kry dieselfde behandeling. Soos dit gaan met dié wat ’n eed aflê, so gaan dit ook met dié wat nie ’n eed aflê nie. Die slegste ding van alles wat onder die son gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Ook dat die hart van die mens vol boosheid is. Die dwaasheid bly by hom sy lewe lank. Daarna gaan hy na dié wat reeds dood is. Net mense wat leef, het enige hoop. Selfs ’n hond wat lewe, is meer werd as ’n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet ten minste dat hulle sal doodgaan. Maar dooies weet niks. Daar wag vir hulle geen beloning meer nie, en niemand onthou hulle nie. Dit is dan klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat onder die son gebeur nie.
PREDIKER 9:1-6 DB (Die Boodskap)
Ek het die lewe ondersoek en besef dat alles voorafbepaal is. God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie. Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos. Of iemand nou goed of sleg is, en of iemand offer of nie offer nie, maak nie eintlik saak nie. ’n Goeie mens is nie in ’n beter posisie as ’n slegte mens nie en iemand wat beloftes voor God aflê, is nie beter as iemand wat dit nie doen nie. Daar is ’n slegte ding in hierdie wêreld en dit is dat almal dieselfde lot deel. Mense gee hulle aan sinlose dinge oor en bedink allerlei booshede. Daarna gaan hulle dood. Almal wat leef, het egter ’n skrale troos; amper soos die waardelose voordeel van ’n brandsiekhond wat nog leef teenoor ’n sterk leeu wat klaar dood is. En dit is dat die lewende weet hy gaan sterf, terwyl die dooie dit nie weet nie. Die dooie kan niks meer geniet nie. Hy word heeltemal vergeet. Selfs sy liefde, haat en jaloesie gaan saam met hom dood. Hy het geen deel meer aan enigiets wat op aarde gebeur nie.
PREDIKER 9:1-6 ABA (Bybel vir almal)
Ja, ek het oor al hierdie dinge gedink en ek het gesien dat dit God is wat besluit oor mense wat reg lewe, Hy besluit oor wyse mense en oor die dinge wat hulle doen. Mense weet nie wat met hulle sal gebeur nie, hulle weet ook nie of God vir hulle liefde of haat sal stuur nie. Dieselfde dinge gebeur met almal, dit gebeur met mense wat reg doen en met mense wat verkeerd doen, met mense wat goed is, met mense wat rein is en met mense wat onrein is, met mense wat offer en met mense wat nie offer nie, met mense wat goeie dinge doen en met mense wat sonde doen, met mense wat vir God iets belowe en met mense wat bang is om vir God iets te belowe. Daar is iets verkeerd wat in hierdie wêreld gebeur: Dit is verkeerd dat dieselfde dinge met almal gebeur. Mense dink slegte dinge en hulle is dwase hulle hele lewe lank, en daarna sterf hulle. Terwyl 'n mens lewe, kan hy hoop dat dit beter sal gaan met hom, want 'n hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Ja, mense wat lewe, weet dat hulle sal sterf, maar mense wat dood is, weet niks. Hulle kry nie 'n beloning nie, want niemand dink nog aan hulle nie. Hulle was miskien lief vir mense of hulle het mense gehaat, of hulle was kwaad en ontsteld, maar wanneer hulle sterf, dan is dit alles verby. Hulle sal nooit weer saam met ander mense die dinge doen wat in hierdie wêreld gebeur nie.
PREDIKER 9:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ja, aan al hierdie dinge het ek aandag gegee, om al hierdie dinge op te helder: Die regverdiges en die wyses en hulle dade is in God se hand, of dit nou liefde is of haat. Mense weet nie wat alles vir hulle voorlê nie. Alles is dieselfde vir almal: Daar wag een lot vir die regverdige en die goddelose; vir die goeie, die reine en die •onreine; vir die een wat offer en vir hom wat nie offer nie. Dit gaan met die sondaar soos met die goeie, met die een wat 'n eed aflê, soos met hom wat bang is om 'n eed af te lê. Dit is die slegte by alles wat onder die son gebeur: dat daar een lot is vir almal; ook dat die hart van mense vol boosheid is, en dat domheid in hulle harte is gedurende hulle lewe; en daarna – na die dooies! Maar vir wie nog by al die lewendes is, is daar hoop. Ja, 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Die lewendes weet immers dat hulle sal sterf, maar die dooies weet niks nie; daar is vir hulle geen verdere beloning nie. Ja, die herinnering aan hulle het vervaag; hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer het lankal verdwyn; en vir ewig het hulle geen deel meer aan alles wat onder die son gebeur nie.
PREDIKER 9:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Oor dit alles het ek in my hart gedink om dit alles te verkondig, dat die regverdiges en die wyses en hulle werke in die hand van God is; niemand ken liefde of haat van alles wat voor hulle is nie. Alles kom vir almal eenders: een gebeurtenis is vir die regverdige en een vir die goddelose; vir die goeies en die reines en die onreine; aan hom wat offer en aan hom wat nie offer nie: soos die goeie is, so is die sondaar; en hy wat sweer, soos hy wat 'n eed vrees. Dit is 'n boosheid onder alles wat onder die son gebeur, dat daar een gebeurtenis vir almal is: ja, ook die hart van die mensekinders is vol boosheid, en waansin is in hulle hart terwyl hulle lewe, en daarna hulle gaan na die dooies. Want vir hom wat aan al die lewendes verbonde is, is daar hoop, want 'n lewende hond is beter as 'n dooie leeu. Want die lewendes weet dat hulle sal sterwe, maar die dooies weet niks en het geen beloning meer nie; want die herinnering aan hulle is vergete. Ook hulle liefde en hulle haat en hulle afguns is nou vergaan; en hulle het geen deel meer vir ewig aan alles wat onder die son geskied nie.