Prediker 8

8
1Wie is soos die wyse?
En wie ken die betekenis van 'n saak?
Die wysheid van 'n mens
laat sy gesig straal
en sy strak gelaat word verander.
Gedig oor politieke mag
2Kom die bevel van die koning na;
maar as dit oor die eed
voor God gaan,
3 moenie verskrik wees nie;
gaan van die koning af weg;
moet jou nie met 'n slegte saak
inlaat nie;
hy doen immers alles wat hom behaag,
4want 'n koning se woord is magtig.
Wie kan vir hom sê:
“Wat doen u?”
5 “Wie 'n gebod nakom,
sal nie kwaad ervaar nie;
en die hart van 'n wyse
ken tyd en beslissing.”
6Ja, vir elke saak
is daar 'n tyd en 'n beslissing;
maar die teenspoed van die mens
rus swaar op hom,
7want hy weet nie wat gaan gebeur nie.
Ja, hoe dit gaan gebeur –
wie kan hom daaroor inlig?
8Geen mens het beheer
oor die lewensasem,
om die lewensasem terug te hou nie.
Niemand het mag oor die sterfdag nie,
daar is geen vrystelling in die oorlog nie,
en goddeloosheid kan sy besitters
nie laat vrykom nie.
9Dit alles het ek gesien
terwyl ek aandag gegee het
aan elke werk wat onder die son
gedoen word –
in die tyd wanneer een mens
beheer uitoefen oor 'n ander,
tot sy nadeel.
Gedigte oor vergelding en wysheid
10Daarna het ek gesien:
Goddeloses wat gewoond was om
in en uit die heiligdom te gaan,
word begrawe.
Maar in die stad raak dié vergete
wat reg opgetree het.
Ook dit is sinloos.
11Omdat 'n vonnis oor 'n bose daad
nie gou voltrek word nie,
daarom is mense se harte
in hulle vol daarvan
om kwaad te doen –
12omdat 'n sondaar honderd
keer kwaad kan doen,
en lank lewe.
Ja, ek weet ook:
Dit sal goed gaan met hulle
wat vir God ontsag het,
omdat hulle vir Hom ontsag het;
13en dit sal nie goed gaan
met die goddelose nie,
en hy sal nie die dae verleng
soos 'n skaduwee nie,
omdat hy geen ontsag het
vir God se teenwoordigheid nie.
14 Daar is iets sinloos
wat op die aarde plaasvind:
Daar is regverdiges met wie
dit gaan volgens die optrede
van die goddeloses;
en daar is goddeloses met wie
dit gaan volgens die optrede
van die regverdiges.
Ek sê dat ook dit sinloos is.
15Daarom prys ek die plesier,
want daar is niks beter vir die mens
onder die son nie
as om te eet en te drink
en vrolik te wees.
Dit moet hom vergesel
by sy inspanning gedurende
sy lewensdae wat God hom gee
onder die son.
16Toe ek my daaraan toegewy het
om wysheid te ken,
en om die taak te beskou
wat op die aarde verrig word
– terwyl 'n mens selfs
dag en nag met sy oë
geen slaap sien nie –
17 het ek al die werk
van God gesien.
Die mens is nie in staat
om die werk wat onder die son
gedoen word te ontrafel nie.
Hoe die mens hom ook al vermoei
met soek,
hy sal dit nie ontrafel nie.
Selfs al gee die wyse voor
om dit te weet,
hy is nie in staat
om dit te ontrafel nie.

Tans Gekies:

Prediker 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid