Prediker 7

7
1'n Goeie naam is beter
as goeie reukolie,
en die sterfdag
as die geboortedag.
2Dit is beter om te gaan na 'n huis
waar gerou word,
as om te gaan na 'n huis
waar fees gevier word;
want in 'n huis waar gerou word,
eindig alle mense,
en die lewende moet dit
ter harte neem.
3Verdriet is beter as lag,
want met 'n droewige gesig
gaan dit goed met die hart.
4Die hart van wyses
is in 'n huis waar gerou word,
maar die hart van dwase
is in 'n huis waar plesier is.
5 Dit is beter om te luister
na die vermaning van 'n wyse,
as wanneer iemand luister
na die lied van dwase.
6Want soos die geknetter
van doringtakke onder 'n pot,
so is die gelag van 'n dwaas.
Ook dit is sinloos:
7dat afpersing 'n wyse
dwaas maak,
en 'n geskenk 'n hart vernietig.
8Die einde van 'n saak
is beter as die begin daarvan;
iemand wat lankmoedig is,
is beter as iemand wat hoogmoedig is.
9Moenie in jou gees haastig wees
om jou te vererg nie,
want verdriet is tuis
op die skoot van dwase.
10Moenie sê,
“Waarom was die vroeëre dae
beter as hierdie?” nie;
want dit is nie uit wysheid
dat jy daaroor vrae stel nie.
11 Wysheid is goed
saam met 'n erfporsie
en is 'n voordeel
vir dié wat die son sien;
12want die wysheid bied beskutting.
Geld bied beskutting,
maar die voordeel daarvan
om die wysheid te ken, is:
Die wysheid hou dié wat haar besit,
lewend.
13Kyk na die werk van God:
Wie kan reguit maak
wat Hy krom gemaak het?
14As dit die dag goed gaan,
geniet die voorspoed,
maar as dit die dag sleg gaan, besef:
Ook hierdie dag het God gemaak
net soos daardie een;
gevolglik kan die mens
nie enigiets ontdek
wat in die toekoms wag nie.
15Dit alles het ek gesien
in my sinlose lewensdae:
Daar is 'n regverdige wat deur
sy regverdigheid omkom;
en daar is 'n goddelose wat deur
sy goddeloosheid lank lewe.
16Moenie oordrewe regverdig wees
of jouself besonder slim hou nie.
Waarom moet jy jouself vernietig?
17Moenie oordrewe goddeloos
wees nie,
en moenie 'n dwaas wees nie.
Waarom moet jy sterf voor jou tyd?
18Dit is goed dat jy
aan die een vashou
en ook nie jou hand
aan die ander onttrek nie;
want wie vir God eerbied het,
ontkom aan dit alles.
19 Die wysheid gee aan die wyse
meer mag as tien heersers
wat in die stad is;
20 want daar is geen mens op aarde
wat regverdig is,
wat aanhou goed doen
en nie sondig nie.
21Verder, moenie aandag gee
aan alles wat mense sê nie,
sodat jy nie hoor dat jou slaaf
jou vervloek nie.
22Want jou hart weet ook
van die vele kere
toe ook jy ander vervloek het.
23Dit alles het ek met wysheid
op die proef gestel.
Ek het gesê, ek wil wys wees,
maar dit het buite my bereik gebly.
24Wat gebeur, is ver en diep,
baie diep –
wie kan dit peil?
25 Ek het my hart daaraan oorgegee
om te ken en na te vors,
om na wysheid en verklaring te soek,
om die kwaad van onkunde,
en die dwaasheid as domheid,
te leer ken.
26En dan vind ek gewoonlik:
Bitterder as die dood
is die vrou wat vangnette is;
wie se hart sleepnette,
wie se hande boeie is.
Hy wat goed is voor God,
sal aan haar ontkom;
maar hy wat verkeerd doen,
word deur haar gevang.
27Kyk, dit is die wysheid
wat ek gevind het,
sê die prediker,
by die een na die ander
op soek na verklaring.
28Wat ek self bly soek het,
maar nie gevind het nie, is:
Een mens uit duisend het ek gevind,
maar 'n vrou het ek tussen
hulle almal nie gevind nie.
29Kyk, al wat ek kon vasstel,
is dat God die mensdom
reg geskape het,
maar hulle is op soek
na allerlei slim verklarings.

Tans Gekies:

Prediker 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid