Deuteronomium 18

18
Leviete
1 ‘‘ Die Levitiese priesters, die hele stam van Levi, sal nie 'n aandeel of erfenis hê saam met Israel nie. Van die besondere gawes aan die Here en van wat aan Hom behoort, moet hulle leef. 2 Hulle sal geen erfdeel saam met hulle volksgenote ontvang nie. Die Here is hulle erfdeel, soos Hy hulle beloof het. 3Die priesters is geregtig op die volgende van die kant van die volk wanneer hulle offer, of dit nou 'n bees of kleinvee is: Hulle moet vir die priesters die blad, die twee wange en die maag gee. 4Die eerste opbrengs van jou koring, jou •nuwe wyn en jou olie, asook die eerste skeersel van jou kleinvee moet jy vir hulle gee; 5want Levi is deur die Here jou God gekies uit al jou stamme, sodat hy altyd in die Naam van die Here kan dien, hy en sy nageslag.
6“Wanneer 'n Leviet uit een van jou dorpe waar hy tydelike verblyf het, uit enige deel van Israel, kom, en hy uit vrye wil gaan na die plek wat die Here sal kies, 7en hy daar in die Naam van die Here sy God diens doen soos al sy stamgenote, die Leviete wat daar voor die Here dien, 8dan moet hy 'n gelyke aandeel kry om van te leef, ongeag wat die verkoop van sy familiebesit opgelewer het. ”
Waarsêers en profete
9“ Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy nie die afstootlike gebruike van daardie nasies aanleer nie. 10Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer, of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of 'n towenaar is nie, 11wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie. 12Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here afstootlik. En dit is oor hierdie afstootlike dinge dat die Here jou God hulle voor jou verdryf. 13 Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God. 14Ja, hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na hulle wat voortekens lees en voorspellings maak; maar wat jou betref, die Here jou God laat jou so iets nie toe nie.
15 “'n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die Here jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister. 16Dit is eintlik wat jy van die Here jou God by Horeb op die dag van die byeenkoms gevra het, toe jy gesê het, ‘Ek kan nie langer na die stem van die Here my God luister en ook nog na hierdie groot vuur bly kyk nie – ek wil nie sterf nie.’ 17Die Here het toe vir my gesê, ‘Wat hulle sê is goed, 18Ek sal vir hulle uit hulle volksgenote 'n profeet soos jy laat opstaan, en Ek sal my woorde in sy mond lê. Hy sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. 19 En van die persoon wat nie luister na my woorde wat hy in my Naam sê nie, sal Ek self rekenskap eis. 20 Maar die profeet wat so vermetel is om 'n woord in my Naam te sê wat Ek hom nie beveel het om te sê nie, of wat in die naam van ander gode praat – daardie profeet moet sterf.’
21“En as jy jouself sou afvra: Hoe sal ons weet watter woorde het die Here nie gesê nie? 22As dit wat 'n profeet in die Naam van die Here sê, nie gebeur nie en daar kom niks van nie, dan is dit woorde wat die Here nie gespreek het nie. In vermetelheid het die profeet dit gesê. Jy mag nie vir hom bang wees nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid