Deuteronomium 12

12
Enigste plek van aanbidding
1“ Hier volg die vaste voorskrifte en beslissings wat julle nougeset moet nakom in die land wat die Here, die God van jou voorouers, vir jou gegee het om as erfenis te besit solank as wat julle op die grond leef. 2 Al die aanbiddingsplekke op die hoë berge, op die heuwels en onder elke skaduryke boom, waar die nasies vir wie julle gaan verdryf hulle gode dien, moet julle heeltemal vernietig. 3Julle moet hulle altare afbreek, hulle gedenkstene stukkend slaan, hulle asjeras verbrand en die beelde van hulle gode stukkend kap. Julle moet hulle naam uit daardie plek uitroei. 4 Julle mag die Here julle God nie op so 'n manier dien nie. 5 Slegs by die plek wat die Here julle God uit al julle stamme sal kies om sy Naam daar te vestig as sy woonplek, mag julle na sy wil vra; daarheen moet jy gaan. 6Daarheen moet julle julle •brandoffers, •maaltydoffers, tiendes en •wydingsgeskenke, julle •gelofte-offers en vrywillige gawes, en die eersgeborenes van julle beeste en kleinvee neem. 7Daar, in die teenwoordigheid van die Here julle God, moet julle eet. Julle moet bly wees, julle en julle huisgesinne, oor alles waaraan julle die hand kon waag en waarmee die Here jou God jou geseën het. 8 Julle moenie daar maak soos ons nou hier maak nie – elkeen na goeddunke. 9Want julle het nou nog nie by die rusplek en erfenis aangekom wat die Here jou God vir jou gaan gee nie. 10Maar wanneer julle die Jordaan oorgesteek het, en in die land woon wat die Here julle God vir julle as erfenis gaan gee, en Hy vir julle rus gee van al julle vyande in die omtrek, en julle veilig woon, 11dan moet dit gebeur op die plek wat die Here julle God kies om daar sy Naam te vestig. Daarheen moet julle gaan met alles wat ek julle beveel: julle brandoffers en maaltydoffers, julle tiendes en wydingsgeskenke, asook al julle besondere gelofte-offers wat julle aan die Here beloof. 12 Julle moet vol vreugde wees in die teenwoordigheid van die Here julle God, julle en julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne, en die Leviete wat in julle dorpe is omdat hulle geen aandeel of erfenis saam met julle het nie. 13Wees versigtig dat jy nie jou brandoffers sommer op enige plek wat jy sien, bring nie. 14Slegs op die plek wat die Here kies by een van jou stamme, daar moet jy jou brandoffers bring en daar moet jy alles doen wat ek jou beveel. 15 Jy mag wel slag soveel as waarvoor jy lus het, en vleis eet volgens die mate waarin die Here jou God jou geseën het in al jou dorpe. •Onrein en rein persone mag dit eet, soos in die geval van 'n gasel en 'n rooitakbok. 16Net die bloed mag julle nie eet nie. Op die grond moet julle dit laat uitloop soos water.
17“ Jy word nie toegelaat om in jou dorpe die tiendes van jou koring te geniet nie, ook nie van jou •nuwe wyn en olie, die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, enige gelofte-offer wat jy aan die Here beloof het, of jou vrywillige offers en wydingsgeskenke nie. 18Slegs in die teenwoordigheid van die Here jou God, op die plek wat Hy kies, mag jy dit eet – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne en die Leviete wat in jou dorpe is. Jy moet vol vreugde wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand gewaag het. 19Let daarop dat jy nie die Leviete in die steek laat solank as wat jy op jou grond is nie.
20“ Wanneer die Here jou God jou gebied uitbrei soos Hy jou beloof het, en jy dink, ek sal graag vleis wil eet, omdat jy daarvoor lus het, dan mag jy maar soveel vleis eet as wat jy begeer. 21As die plek wat die Here jou God kies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, dan mag jy, soos ek jou beveel het, van die beeste en kleinvee slag wat die Here vir jou gegee het. Jy mag in jou dorpe eet soveel as wat jou hart begeer. 22Jy moet dit egter eet soos wat 'n gasel of rooitakbok geëet word. Onrein en rein persone mag dit saam eet. 23Wees net daarop bedag om glad nie die bloed te eet nie, want die bloed is die lewe en jy mag nie die lewe saam met die vleis eet nie. 24Jy mag dit nie eet nie; jy moet dit op die grond laat uitloop soos water. 25Jy mag dit nie eet nie, sodat dit met jou goed kan gaan en met jou kinders ná jou; want jy doen dan wat reg is in die oë van die Here. 26Die •heilige gawes wat jy het en jou gelofte-offers moet jy egter neem en net na die plek wat die Here sal kies, gaan. 27Jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, op die altaar van die Here jou God offer. Die bloed van jou maaltydoffers moet teen die altaar van die Here jou God uitgegooi word, maar die vleis mag jy eet.
28“ Jy moet al hierdie woorde wat ek jou opdra, nougeset gehoorsaam, sodat dit vir altyd goed sal gaan met jou en jou kinders ná jou, want dan doen jy wat goed en reg is in die oë van die Here jou God.
29“ Wanneer die Here jou God die nasies uitroei waarheen jy nou op pad is om hulle voor jou uit te dryf, sal jy, nadat jy hulle verdryf het, in hulle land woon. 30Wees versigtig dat jy, nadat hulle voor jou uitgedelg is, nie in dieselfde strik trap as hulle en dat jy nie oor hulle gode navraag doen nie deur te sê, ‘Hoe dien hierdie nasies hulle gode? Ek wil ook so offer.’ 31Jy mag nie so offer vir die Here jou God nie, want alles wat vir die Here afstootlik is, waarin Hy 'n weersin het, offer hulle vir hulle gode. Ja, hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters vir hulle gode.
32 “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle nougeset nakom. Jy mag daar niks byvoeg en niks daarvan weglaat nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid