Daniël 8

8
Visioen van die ramme
1 In die derde regeringsjaar van koning Belsasar is daar aan my, Daniël, 'n visioen geopenbaar, ná die een wat aan die begin aan my geopenbaar is. 2 In die visioen het ek myself in die vestingstad Susan, in die Elamprovinsie, gesien. Ek sien toe in die visioen dat ek langs die Ulaikanaal is. 3 Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n ram met twee horings wat voor die kanaal staan. Die twee horings was lank, maar die een was langer as die ander, en die langste een het laaste uitgekom. 4Ek het gesien die ram stoot na die weste, die noorde en die suide, en geen dier kon voor hom standhou nie. Niemand kon iets uit sy mag red nie. Hy het gedoen wat hy wou en hom groot voorgedoen. 5 Terwyl ek nog daaroor nadink, kyk, toe kom 'n bokram uit die weste oor die oppervlak van die hele aarde aan, sonder om aan die grond te raak. Die bok het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad. 6Hy kom toe tot by die ram met die twee horings wat ek voor die kanaal sien staan het. Toe storm hy met geweldige woede op hom af. 7Ek het gesien hoe hy tot by die ram kom. Hy was briesend kwaad vir hom, en het die ram getref. Hy het sy twee horings afgebreek, en daar was geen krag in die ram om voor hom staande te bly nie. Hy het hom teen die grond gegooi en hom vertrap. Daar was niemand wat die ram uit sy mag kon red nie.
8Die bokram het homself besonder groot voorgedoen. Maar toe hy sterk geword het, het die groot horing afgebreek. Vier opvallende horings het in die plek daarvan gegroei, na die vier windrigtings van die hemel. 9 Uit een van hulle het 'n enkele klein horing uitgekom, maar dit het uitermate groot gegroei na die suide, na die ooste en na die Sieraad. 10Dit het groot geword tot by die hemelse leër, dit is die sterre, en dit het van die sterre op die aarde laat val en hulle vertrap. 11 Die horing het hom selfs teen die Bevelvoerder van die leër verhef. Van Hom is die gereelde offer weerhou, en die plek van sy heiligdom is omvergewerp.
12Daar sal 'n ander offerdiens in die plek van die gereelde offer ingestel word as 'n daad van opstand. Hy sal die waarheid teen die grond gooi, en suksesvol wees in sy optrede.
13 Ek het een van die •heiliges hoor praat. 'n Ander heilige vra toe vir iemand, vir die een wat praat: “Hoe lank sal dit duur – dit wat in die visioen openbaar is oor die gereelde offer en die verwoestende daad van opstand, en oor die oorgawe van sowel die heiligdom as die offerdiens om vertrap te word?” 14Hy het vir my gesê: “Tot tweeduisend driehonderd aande en oggende – dan sal 'n heiligdom sy regmatige plek kry. ”
15 Terwyl ek, Daniël, die visioen sien, en dit probeer verstaan, staan daar skielik voor my iemand wat soos 'n man lyk. 16Ek hoor toe die stem van 'n mens oor die Ulai wat roep en sê: “Gabriël, laat hierdie een die verskyning verstaan.”
17 Hy het nader gekom na die plek waar ek staan. Toe hy nader kom, is ek deur vrees oorweldig, en het met my gesig teen die grond neergeval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mensekind, dat die visioen geld vir die tyd van die einde.” 18Terwyl hy met my praat, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond, maar hy het my aangeraak, my weer op my plek laat staan, 19en gesê: “Kyk, ek gaan aan jou bekend maak wat sal gebeur aan die einde van die vervloeking, want dit verwys na die vasgestelde tyd aan die einde. 20 Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië. 21 En die harige bokram is die koning van Jawan. Die groot horing tussen sy oë, dit is die eerste koning. 22Die een wat gebreek is, in die plek waarvan vier opgestaan het, beteken: Vier koninkryke sal uit die nasie opstaan, maar nie met dieselfde krag nie.
23 “Aan die einde
van hulle heerskappy,
as die oortreders volle geleentheid
gehad het,
sal 'n koning met 'n ongenaakbare
gesig opstaan,
een bedrewe in knoeiery.
24Hy sal groot mag hê,
maar nie deur eie krag nie.
Hy sal ongehoorde verwoesting aanrig,
en voorspoedig wees
in wat hy doen.
Hy sal sterkes en die volk
van die heiliges vernietig.
25 Deur sy vernuf sal hy slaag
met die bedrog wat hy aanrig.
In sy hart is hy vol eiewaan,
en onverhoeds
sal hy baie mense vernietig.
Selfs teen die Vors van vorste
sal hy opstaan,
maar sonder mensehand
sal hy vernietig word.
26 “Die openbaring in verband met die aand en die oggend waaroor daar gepraat is, dit is waar. En jy, hou die visioen geheim, want daar moet nog baie dae verloop.”
27 Ek, Daniël, was uitgeput en dae lank ongesteld. Toe het ek opgestaan en die koning se werk gedoen. Ek was verslae oor die openbaring, en kon dit nie begryp nie.

Tans Gekies:

Daniël 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid