Daniël 7

7
Visioen van die vier diere
1 In die eerste regeringsjaar van Belsasar, die koning van Babilonië, het Daniël 'n droom gehad; dit was visioene in sy kop, terwyl hy in sy bed was. Hy het daarna die droom neergeskryf.
Die hoofsom van die gebeure het hy saamgevat.
2 Daniël het die volgende gesê: “In my visioen in die nag het ek gesien hoe die vier winde van die hemel die groot see in beroering bring. 3 Vier groot diere het uit die see opgekom, elkeen anders as die ander.
4“ Die eerste was soos 'n leeu met die vlerke van 'n arend. Ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgepluk was, hy van die grond af opgelig is, op twee voete soos 'n mens neergesit is en die hart van 'n mens aan hom gegee is.
5“ En kyk, 'n ander, 'n tweede dier, het soos 'n beer gelyk, en is langs die eerste dier opgerig. Daar was drie ribbes in sy bek tussen sy tande, en daar is vir hom gesê, ‘Staan op, eet baie vleis!’
6“ Daarna het ek gesien: Kyk, daar was 'n ander dier, soos 'n luiperd. Hy het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad. Die dier het vier koppe gehad, en heerskappy is aan hom gegee.
7“ Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was 'n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad. 8 Terwyl my aandag nog by die horings was, kyk, toe kom daar 'n ander klein horinkie tussen hulle uit, en drie van die vorige horings voor hom is ontwortel. Kyk, in hierdie horing was daar oë soos mense-oë en 'n mond wat grootpraat.
9“ Ek het gekyk
totdat trone opgestel is,
en 'n Oue van Dae plaasgeneem het.
Sy kleed was wit soos sneeu,
die hare van sy hoof soos suiwer wol.
Sy troon was vuurvlamme,
die wiele daarvan vlammende vuur.
10'n Rivier van vuur het gevloei
en voor Hom uit gestroom.
Duisend maal duisende was tot sy diens,
en tienduisend maal tienduisende
het voor Hom gereed gestaan.
Die regbank het plek ingeneem,
en die •boekrolle is oopgemaak.
11“Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. 12 Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het.
13“Ek het in die nagtelike visioene gesien:
“Kyk, met die wolke van die hemel
was iemand aan die kom
wat soos 'n mensekind was;
tot by die Oue van Dae het hy gekom,
voor Hom is hy gebring.
14Aan hom is heerskappy,
eer en koningskap gegee –
alle volke, nasies en taalgroepe
dien hom.
Sy heerskappy
is 'n ewige heerskappy
wat nie verby sal gaan nie,
en sy koningskap is so dat dit
nie vernietig sal word nie.
15“ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. 16 Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, 17 ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, 18 maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’
19“ Toe wou ek sekerheid kry oor die vierde dier, wat van al die ander verskil het – buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en naels van brons, wat verslind en vermorsel, en dit wat oorbly, met sy pote vertrap – 20en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander horing wat uitgekom het, waarvoor drie ander moes wyk, dié horing met oë en 'n mond wat grootpraat en wat groter gelyk het as die ander. 21 Ek het gesien hierdie horing maak oorlog teen die heiliges, en hy was besig om die oorhand oor hulle te kry, 22 totdat die Oue van Dae gekom het en 'n uitspraak gegee is ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het toe aangebreek, en die heiliges het die koninkryk in besit geneem.
23“ So het hy gesê,
“ ‘Die vierde dier beteken:
'n Vierde koninkryk
sal op die aarde wees,
wat van al die koninkryke verskil.
Dit sal die aarde verslind
en dit vertrap en vermorsel.
24 Die tien horings beteken:
Uit daardie koninkryk
sal tien konings opstaan.
'n Ander een sal ná hulle opstaan;
hý sal verskil van die voriges,
en hy sal drie konings verneder.
25 Woorde gerig teen die Hoogste
sal hy uitspreek,
en die heiliges van die Allerhoogste
sal hy teister.
Hy sal poog om feestye en die wet
te verander,
en die heiliges sal in sy hand
gegee word
vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.
26 Maar die regbank sal sitting neem,
en sy heerskappy sal hulle wegneem
om dit te vernietig en te verdelg,
tot die einde toe.
27 Die koningskap, die heerskappy
en die grootsheid
van die koninkryke
onder die ganse hemel
word dan gegee
aan die volk van die heiliges
van die Allerhoogste.
Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk,
en alle magte sal Hom dien
en aan Hom gehoorsaam wees.’
28“Hier eindig die weergawe.
“Ek, Daniël – my gedagtes het my baie verskrik, en my gelaatskleur het verander, maar ek het die weergawe in my hart bewaar. ”

Tans Gekies:

Daniël 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid