Handelinge 26:4-23
Handelinge 26:4-23 AFR20
Al die Jode weet hoe ek van die begin af, sedert my jeug, my lewe onder my volk in Jerusalem gelei het. Omdat hulle my van jongs af ken, sal hulle kan getuig, as hulle wil, dat ek volgens die strengste party in ons godsdiens, as •Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat deur God aan ons voorvaders gemaak is – die belofte wat ons twaalf stamme hoop om te verkry deurdat ons God dag en nag in alle erns dien. O koning, dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word. Waarom word dit deur julle as ongeloofbaar beskou dat God dooies opwek? Ek was self daarvan oortuig dat dit nodig is om baie vyandig op te tree teen die Naam van Jesus van Nasaret, wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die •heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. Deur hulle dikwels te laat straf in al die •sinagoges, het ek hulle probeer dwing om te laster. Ek was so rasend van woede teenoor hulle dat ek hulle selfs in stede in die buiteland vervolg het.” “Terwyl ek op 'n keer, in opdrag van die leierpriesters, en met hulle volmag, juis hiervoor na Damaskus op reis was, o koning, het ek langs die pad helder oordag 'n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat om my en my reisgenote skyn. Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek 'n stem wat vir my in die Hebreeuse taal sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en 'n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’ “Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die inwoners van Damaskus sowel as Jerusalem, en toe aan die hele landstreek van Judea en aan die heidene, verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle na God moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. Hieroor het die Jode my gegryp toe ek in die tempelterrein was, en het hulle my probeer doodmaak. Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”



