HANDELINGE 26:4-23 - Compare All Versions
HANDELINGE 26:4-23 ABA (Bybel vir almal)
“Al die Jode weet hoe ek gelewe het, vandat ek 'n kind was. Vandat ek klein was, het ek tussen my eie volk en in Jerusalem gebly. Hulle ken my 'n lang tyd. As hulle wil, dan sal hulle kan sê dat ek die waarheid praat wanneer ek sê dat ek 'n Fariseër was en dat ek gelewe het soos die Fariseërs. Die Fariseërs is die strengste groep in ons godsdiens, hulle lewe presies soos die wette sê. En nou staan ek voor jou sodat jy my kan oordeel omdat ek glo en weet dat God sal doen wat Hy vir ons voorvaders belowe het. Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Hoekom wil julle nie glo dat God mense wat gesterf het, weer kan laat lewe nie? “Voorheen het ek gedink dat ek baie slegte dinge moet doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. In Jerusalem het ek baie slegte dinge gedoen aan die mense wat aan God behoort. Ek het baie van daardie mense in tronke laat gooi. Die priesterleiers het gesê ek mag dit doen. Ek het ook gesê dit is reg toe hulle die mense doodgemaak het wat aan Jesus behoort. Ek het hulle baie maal gestraf en ek het gesê hulle móét in al die sinagoges slegte dinge sê teen God. Ek was baie kwaad vir hulle en ek het baie slegte dinge gedoen aan hulle, ook in die stede in ander lande, ver weg van Jerusalem. “Dit is hoekom ek na die stad Damaskus gegaan het. Die priesterleiers het gesê ek kan en moet dit gaan doen. Ek was besig om na die stad Damaskus te gaan. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Koning, toe het ek 'n lig gesien wat uit die hemel skyn. Die lig was baie helder, meer helder as die son. Die lig het op my geskyn, en ook op die mense wat saam met my geloop het. Ons het almal op die grond geval, en toe het ek Iemand gehoor praat. Hy het in Hebreeus vir my gesê: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My? Jy maak jouself seer as jy nie na My luister nie.’ “Ek het geantwoord: ‘Wie is U, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Ek is Jesus. Jy doen slegte dinge aan My. Maar jy moet opstaan. Ja, staan regop, want Ek het aan jou verskyn omdat Ek jou gekies het en omdat Ek jou wil aanstel om vir My te werk. Jy moet My dien en jy moet getuig van die dinge wat jy vandag gesien het. Jy moet ook getuig van die dinge wat Ek later vir jou sal wys. Ek sal jou beskerm teen jou eie volk en teen die heidene. Ek stuur jou na die heidene. Hulle glo nie in My nie. Hulle is soos blinde mense, maar Ek sal jou gebruik om hulle weer te laat sien. Hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Dan sal hulle wees soos mense wat in die donker was, maar wat na die lig gekom het. Ja, hulle moet wegdraai van die krag van Satan, hulle moet teruggaan na God toe. Dan sal God hulle sonde vergewe en hulle sal ook mense word wat aan God behoort omdat hulle in My glo.’ “Koning Agrippa, God het dit alles vir my laat sien en laat hoor. Daarom was ek gehoorsaam en ek het gaan preek, eers vir die mense wat in Damaskus woon, en toe vir die mense wat in Jerusalem woon, en toe oral in die provinsie Judea, en ook vir die heidene. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en begin lewe soos God wil hê. Ja, hulle moet teruggaan na God toe en hulle moet dinge doen wat wys dat hulle verander het en dat hulle lewe soos God wil hê. Dit is hoekom die Jode my in die tempel gevang het, dit is hoekom hulle my probeer doodmaak het. Maar God het my gehelp, tot vandag toe. Daarom staan ek hier en ek vertel vir almal van God, ek vertel dit vir kinders en vir grootmense. In die boeke van die profete en in die Wette van Moses is die dinge geskryf wat moes gebeur. Ek praat oor daardie dinge. Daar is geskryf dat die Christus baie swaar moes kry en dat Hy die eerste Persoon sal wees wat gesterf het en wat weer begin lewe het. Dan sal die Christus vir almal vertel dat God hulle red, die Jode en die heidene. Hulle sal wees soos mense wat in die donker is en dan die lig sien.”
HANDELINGE 26:4-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode, omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is, waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig. Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek? Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen. Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee. En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede. Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters, het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad 'n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het. En toe ons almal op die grond val, hoor ek 'n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg. Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot 'n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn, terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur, om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en 'n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang. Daarom, koning Agríppa, was ek aan die hemelse gesig nie ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas. Om hierdie rede het die Jode my in die tempel gevang en my probeer ombring. Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie: dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en 'n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.
HANDELINGE 26:4-23 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon. Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens. En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het. Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig. Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek? “Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem. Dikwels het ek hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het. “Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde, het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad 'n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn. Ons het almal op die grond neergeval, en ek het 'n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’ “Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie. Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas. Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor. Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”
HANDELINGE 26:4-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Al die Jode weet hoe ek van die begin af, sedert my jeug, my lewe onder my volk in Jerusalem gelei het. Omdat hulle my van jongs af ken, sal hulle kan getuig, as hulle wil, dat ek volgens die strengste party in ons godsdiens, as •Fariseër geleef het. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat deur God aan ons voorvaders gemaak is – die belofte wat ons twaalf stamme hoop om te verkry deurdat ons God dag en nag in alle erns dien. O koning, dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word. Waarom word dit deur julle as ongeloofbaar beskou dat God dooies opwek? Ek was self daarvan oortuig dat dit nodig is om baie vyandig op te tree teen die Naam van Jesus van Nasaret, wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die •heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. Deur hulle dikwels te laat straf in al die •sinagoges, het ek hulle probeer dwing om te laster. Ek was so rasend van woede teenoor hulle dat ek hulle selfs in stede in die buiteland vervolg het.” “Terwyl ek op 'n keer, in opdrag van die leierpriesters, en met hulle volmag, juis hiervoor na Damaskus op reis was, o koning, het ek langs die pad helder oordag 'n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat om my en my reisgenote skyn. Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek 'n stem wat vir my in die Hebreeuse taal sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en 'n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’ “Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die inwoners van Damaskus sowel as Jerusalem, en toe aan die hele landstreek van Judea en aan die heidene, verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle na God moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. Hieroor het die Jode my gegryp toe ek in die tempelterrein was, en het hulle my probeer doodmaak. Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”
HANDELINGE 26:4-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
My lewenswyse van my jeug af, wat die eerste keer onder my eie nasie in Jerusalem was, ken al die Jode; wat my van die begin af geken het, as hulle wou getuig, dat ek ná die mees benadeelde sekte van ons godsdiens 'n Fariseër gelewe het. En nou staan ek en word geoordeel vir die hoop op die belofte wat God aan ons vaders gemaak het. Waarop die belofte ons twaalf stamme hoop om te kom, wat God dadelik dag en nag dien. Om hierdie hoop, koning Agrippa, word ek van die Jode beskuldig. Waarom sou dit vir julle 'n ongelooflike ding wees dat God die dooies sou opwek? Ek het waarlik by myself gedink dat ek baie moet doen in stryd met die Naam van Jesus van Nasaret. Wat ek ook in Jerusalem gedoen het, en baie van die heiliges het ek in die gevangenis opgesluit, nadat ek gesag van die owerpriesters ontvang het; en toe hulle gedood is, het Ek my stem teen hulle uitgespreek. En Ek het hulle dikwels in elke sinagoge gestraf en hulle gedwing om te laster; en omdat ek baie kwaad was teen hulle, het ek hulle vervolg tot in vreemde stede. Toe ek na Damaskus gegaan het met gesag en opdrag van die owerpriesters, Teen die middag, o koning, het ek op die pad 'n lig uit die hemel gesien, bo die glans van die son, wat rondom my en die wat saam met my gereis het, skyn. En toe ons almal op die aarde geval het, het ek 'n stem met my hoor spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? dit is vir jou moeilik om teen die prikkels te skop. En ek het gesê: Wie is U, Here? En hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg. Maar staan op en staan op jou voete, want met hierdie doel het Ek aan jou verskyn om jou 'n dienaar en 'n getuie te maak van beide hierdie dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek aan jou sal verskyn; en verlos jou van die volk en van die heidene na wie Ek jou nou stuur, Om hulle oë te open en hulle van die duisternis na die lig te bekeer, en van die mag van Satan tot God, sodat hulle vergifnis van sondes en erfdeel kan ontvang onder die wat geheilig is deur die geloof in My. Daarom, o koning Agrippa, was ek nie ongehoorsaam aan die hemelse gesig nie. Maar het eers aan die van Damaskus en in Jerusalem en in al die gebiede van Judéa en daarna aan die heidene getoon dat hulle hulle tot bekering moet bekeer en hulle tot God moet bekeer en werke moet doen wat tot bekering pas. Om hierdie redes het die Jode my in die tempel gevang en gegaan om my dood te maak. Nadat ek dan die hulp van God verkry het, gaan ek voort tot vandag toe om vir klein en groot te getuig en niks anders te sê as wat die profete en Moses gesê het sou kom nie. Dat Christus sou ly en dat Hy die eerste sou wees wat uit die dood sou opstaan en lig aan die mense en die heidene sou gee.
HANDELINGE 26:4-23 DB (Die Boodskap)
“Van my kinderdae af het ek tussen my eie mense in Jerusalem gebly. Hulle almal ken my. As een van hulle die moed sou gehad het om vandag hier op te staan, sou hulle vir u kon sê dat ek ’n lid was van die Fariseërs, die strengste godsdienstige groep binne ons godsdiens. Die ironie van dit alles is dat ek nou aangekla word omdat ek al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het met my hele lewe glo. Ek glo dieselfde dinge as dié waaraan al die Israeliete nog die hele tyd vasgehou het. Hulle het ook geglo dat God sal doen wat Hy belowe het. “Geagte koning Agrippa, ek kan nie begryp hoekom ek nou deur die Jode aangekla word omdat ek God se Woord glo nie. Ek glo met my hele lewe dat God in staat is om die dooies weer lewendig te maak. Waarom is dit dan vir julle Jode so moeilik om te glo dat God dooies lewendig kan maak? En u, koning Agrippa, dink u ook dis onmoontlik? “In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het. Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie. Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.” “Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn. Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son. Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’ “‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. “Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Maar staan nou dadelik op, want Ek het ’n baie spesiale taak vir jou. Ek het aan jou verskyn sodat jy van nou af my dienskneg kan wees. “‘Jy moet vir ander mense gaan vertel wat jy vandag gesien het. Jy moet ook gaan praat oor dit wat Ek nog vir jou sal sê wanneer Ek later weer aan jou verskyn. Ek het jou vrygemaak. “‘Nou moet jy teruggaan na jou volk en na ander mense buite Israel en hulle oë ook gaan oopmaak. Jy moet vir elkeen wat nog in die donker leef, gaan vertel van die lig. Ruk hulle uit die kloue van Satan sodat hulle God se goedheid kan ken. Sê vir hulle om in My te glo. “‘Dan word al hulle sondes vergewe. Dan word hulle ook deel van die mense wat aan My behoort. Gaan sê dit alles vir hulle.’” “Geagte koning Agrippa, niemand kan aan so ’n visioen ongehoorsaam wees nie. Ek het vir die mense in Damaskus gaan vertel om tot bekering te kom. Ek het vir hulle gesê om hulle lewe aan God te gee en om so te leef dat almal kan sien dat hulle in Hom glo. Daarna het ek presies dieselfde vir die mense in Jerusalem en in Judea gaan sê. Ek het ook na mense gegaan wat nie tot die Joodse volk behoort nie en vir hulle van Jesus vertel. “As gevolg van my prediking oor die hele wêreld was die Jode in Jerusalem later baie kwaad vir my. Toe ek op ’n keer in die tempel kom, het hulle my gevang en my amper doodgemaak. Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie. Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.”
HANDELINGE 26:4-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind. Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty. En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is. Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word! Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek? “Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het. “Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word. Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om Jesus te vloek. Ek het só teen hulle tekere gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het. Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde. Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het. Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’ “‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe. “En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg. Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur. Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.’ “Dis hoekom, koning Agrippa, ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie. Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het. Oor hierdie prediking het sommige Jode my by die tempel gearresteer en probeer vermoor. Tot vandag toe het God my beskerm, en daarom staan ek hier en getuig voor klein en groot. Ek verkondig niks anders as wat die profete en Moses gesê het gaan gebeur nie: Die Messias moes ly en die eerste wees van die dooies wat opstaan. So sou Hy aan ons volk en aan die nie-Joodse nasies die lig verkondig.”