Handelinge 17:10-15

Handelinge 17:10-15 AFR20

Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. As gevolg daarvan het baie van hulle, en ook nie 'n geringe aantal van die vooraanstaande Griekse vroue en mans nie, gelowig geword. Toe die Jode van Thessalonika egter verneem dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig is, het hulle ook daar die skares gaan opsweep en in oproer gebring. Die broers het Paulus toe dadelik weggestuur om na die kus te gaan, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. Die mense wat Paulus begelei het, het hom tot by Athene geneem en vertrek, met 'n opdrag aan Silas en Timoteus om so spoedig moontlik weer na Paulus terug te keer.