Handelinge 15:6-32

Handelinge 15:6-32 AFR20

Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.” Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene 'n volk vir sy Naam sou verkry. Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan: “ ‘Daarna sal Ek terugkom en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel, sodat die res van die mensdom die Here kan soek, ja, al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is. So sê die Here, wat hierdie dinge doen’ wat van lank gelede bekend is. “ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.” Hierna het die •apostels en ouderlinge, in oorleg met die hele •gemeente, besluit om manne wat uit eie geledere gekies is, saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur. Hulle was Judas, bekend as Barsabbas, en Silas, beide leiers onder die broers. Hulle het die volgende skrywe met hulle saamgestuur: “Die apostels en ouderlinge, julle broers, aan die broers uit die heidene in Antiogië, Sirië en Silisië: Gegroet! “Aangesien ons gehoor het dat sommige mense wat van ons af gekom het, sonder dat ons hulle opdrag gegee het, julle met hulle woorde ontstel en julle gemoedere verwar het, het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Barnabas en Paulus – mense wat hulle lewens oorgegee het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons het dus Judas en Silas gestuur, en hulle sal hierdie dinge mondeling aan julle bevestig. Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes: Bly weg van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle hiervan weerhou, sal julle goed doen. Laat dit met julle goed gaan.” So is die manne weggestuur, en hulle het na Antiogië gereis. Nadat hulle die gemeente bymekaar laat kom het, het hulle die brief oorhandig. Die gemeente het die brief gelees, en was verheug oor die bemoediging. Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broers met baie woorde bemoedig en versterk.