HANDELINGE 15:6-32 - Compare All Versions
HANDELINGE 15:6-32 ABA (Bybel vir almal)
Die apostels en die ouderlinge het toe vergadering gehou om hieroor te praat. Nadat hulle baie met mekaar hieroor gestry het, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Vriende, julle weet dat God lank gelede vir my gekies het om die goeie boodskap te bring sodat die heidene dit kan hoor en kan begin glo in die Here. God weet hoe 'n mens se hart regtig is. God het vir die heidene wat begin glo het, die Heilige Gees gegee, soos Hy voorheen die Heilige Gees ook vir ons gegee het. So het God vir die mense gewys dat dit Hý is wat werk. God het ook nie gedink dat die heidene anders is as ons wat Jode is nie, want Hy het vir die heidene rein gemaak omdat hulle in Christus glo. Julle moenie nou vir God toets en kwaad maak nie, moenie 'n juk sit op die nek van die gelowiges wat voorheen heidene was nie. Julle weet dat julle voorouers nie so 'n juk kon dra nie, en ons kan ook nie. Nee, ons glo dat God ook vir ons red soos Hy die heidene red, omdat die Here Jesus genadig is vir ons.” Al die mense het stilgebly en hulle het geluister na Barnabas en Paulus. Barnabas en Paulus het vir hulle vertel van die tekens en wonderwerke wat God hulle laat doen het tussen die heidene. Toe Barnabas en Paulus klaar gepraat het, het Jakobus gesê: “Vriende, luister na my. Simeon het vir ons vertel hoe God begin het om te wys dat Hy vir die heidene wil sorg. God het dit gewys toe Hy uit die heidene 'n volk geneem het om aan Hom te behoort. Die profete sê ook soos Simeon. Daar is geskryf: “Die Here het gesê: Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek die nageslag van koning Dawid weer sal laat regeer. Hulle is soos 'n huis wat omgeval het, soos 'n muur wat afgebreek is. En dan sal Ek terugkom en Ek sal die huis van Dawid wat omgeval het, weer bou, en Ek sal sy mure wat afgebreek is, weer bou. En die huis van Dawid sal weer wees soos hy altyd was. Ek sal dit doen sodat al die ander mense na die Here toe sal kom en sodat al die heidene na die Here toe sal kom, Ek het hulle gekies om aan My te behoort. Die Here wat al hierdie dinge doen, het dit gesê. Hy het dit lank gelede gesê. “Daarom dink ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat verander en wat begin lewe soos God wil hê hulle moet lewe nie. Nee, ons moet vir hulle skryf om nie afgod-offervleis te eet nie. Hulle moet ook nie onsedelik lewe nie, hulle moenie iets eet wat verwurg is nie, en hulle moet ook nie bloed eet nie. Want van lank gelede af was daar in elke stad mense wat vir ander mense vertel het van die Wette van Moses. Daarom het hulle elke Sabbatdag in die sinagoges vir mense uit die Wette van Moses gelees.” Toe het die apostels en die ouderlinge en die hele gemeente in Jerusalem besluit om mans te kies en om hulle saam met Paulus en Barnabas na die stad Antiogië te stuur. Die mans wat hulle gekies het, was leiers van die gelowiges. Hulle was Judas en Silas. Judas se ander naam was Barsabbas. Die apostels en ouderlinge het 'n brief geskryf wat hulle saam met Judas en Silas gestuur het. In die brief was geskryf: “Ons, die apostels en ouderlinge, julle broers, skryf vir die gelowiges wat voorheen heidene was in die stad Antiogië en in die provinsies Sirië en Silisië. Ons stuur groete vir julle. Ons het gehoor dat party mense hier van Jerusalem na julle toe gegaan het en dat hulle vir julle deurmekaar gemaak en ontstel het. Ons het hulle nie na julle toe gestuur nie. Daarom het ons met mekaar gepraat en ons almal het besluit om mans te kies en om hulle saam met Barnabas en Paulus na julle toe te stuur. Ons is lief vir Barnabas en Paulus, en hulle is mense wat amper gesterf het toe mense hulle wou doodmaak omdat hulle in die Here Jesus Christus geglo het. Daarom het ons vir Judas en Silas gestuur sodat hulle vir julle dieselfde dinge kan vertel wat ons geskryf het. Want die Heilige Gees en ons het besluit om dit nie vir julle moeiliker te maak nie, maar dit is belangrik dat julle net hierdie dinge moet doen: Julle moenie afgod-offervleis en bloed eet nie, julle moenie iets eet wat verwurg is nie, en julle moenie onsedelik lewe nie. As julle nie hierdie dinge doen nie, dan sal julle reg doen. Groete.” Nadat die mense in Jerusalem vir Judas, Silas, Barnabas en Paulus laat gaan het, het hulle na die stad Antiogië in die provinsie Sirië gegaan. Daar het hulle al die gelowiges geroep om bymekaar te kom en hulle het die brief vir hulle gegee. Toe die gelowiges die brief gelees het, was hulle baie bly oor die boodskap, dit het vir hulle bemoedig. Judas en Silas was self ook profete en hulle het lank met die gelowiges gepraat om hulle te bemoedig en om hulle geloof sterker te maak.
HANDELINGE 15:6-32 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook. En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend. Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word. Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was. En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete! Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus — manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring. Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel! So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer. En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging. En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk.
HANDELINGE 15:6-32 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies 'n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.” Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het. Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my! Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom 'n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: “Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen. “Dit is van ouds af bekend. Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.” Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het. Hulle het die volgende brief saamgestuur: “Van die apostels en die ouderlinge, julle broers. “Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië. “Groete. “Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie. Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus, wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra. Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. “Hartlike groete.” Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig. Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap. Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.
HANDELINGE 15:6-32 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.” Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene 'n volk vir sy Naam sou verkry. Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan: “ ‘Daarna sal Ek terugkom en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel, sodat die res van die mensdom die Here kan soek, ja, al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is. So sê die Here, wat hierdie dinge doen’ wat van lank gelede bekend is. “ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.” Hierna het die •apostels en ouderlinge, in oorleg met die hele •gemeente, besluit om manne wat uit eie geledere gekies is, saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur. Hulle was Judas, bekend as Barsabbas, en Silas, beide leiers onder die broers. Hulle het die volgende skrywe met hulle saamgestuur: “Die apostels en ouderlinge, julle broers, aan die broers uit die heidene in Antiogië, Sirië en Silisië: Gegroet! “Aangesien ons gehoor het dat sommige mense wat van ons af gekom het, sonder dat ons hulle opdrag gegee het, julle met hulle woorde ontstel en julle gemoedere verwar het, het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Barnabas en Paulus – mense wat hulle lewens oorgegee het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons het dus Judas en Silas gestuur, en hulle sal hierdie dinge mondeling aan julle bevestig. Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes: Bly weg van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle hiervan weerhou, sal julle goed doen. Laat dit met julle goed gaan.” So is die manne weggestuur, en hulle het na Antiogië gereis. Nadat hulle die gemeente bymekaar laat kom het, het hulle die brief oorhandig. Die gemeente het die brief gelees, en was verheug oor die bemoediging. Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broers met baie woorde bemoedig en versterk.
HANDELINGE 15:6-32 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die apostels en ouderlinge het bymekaargekom om hierdie saak te oorweeg. En toe daar baie twis was, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Manne en broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons gekies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sou hoor, en glo. En God, wat die harte ken, het vir hulle getuig en aan hulle die Heilige Gees gegee, net soos Hy aan ons gedoen het; En maak geen verskil tussen ons en hulle nie, en reinig hulle harte deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God om 'n juk op die nek van die dissipels te lê, wat nie ons vaders en ons in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered sal word, net soos hulle. Toe het die hele skare stilgebly en na Barnabas en Paulus gehoor en vertel watter wonders en wonders God deur hulle onder die heidene gedoen het. En nadat hulle geswyg het, het Jakobus geantwoord en gesê: Manne en broers, luister na my! Simeon het vertel hoe God eers die heidene besoek het om uit hulle 'n volk vir sy Naam te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen; soos geskrywe is, Daarna sal Ek terugkeer en die tent van Dawid wat neergeval het, weer bou; en Ek sal sy puinhope weer bou en dit oprig. Sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek en al die heidene oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here, wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke bekend van die begin van die wêreld af. Daarom is my vonnis dat ons hulle wat uit die heidene hulle tot God bekeer het, nie lastig val nie. Maar dat ons aan hulle skrywe dat hulle hulle moet onthou van besoedeling van afgode en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. Want Moses van ouds het in elke stad die wat Hom verkondig, terwyl hulle elke sabbatdag in die sinagoges gelees word. Toe het die apostels en ouderlinge saam met die hele gemeente behaag om saam met Paulus en Barnabas uitverkore manne uit hulle eie groep na Antiogië te stuur; Judas het naamlik Barsabas genoem, en Silas, hoofmanne onder die broeders. En hulle het briewe deur hulle op hierdie manier geskryf; Die apostels en ouderlinge en broeders stuur groete aan die broeders wat uit die heidene in Antiogië en Sirië en Cilicië is: Vir sover ons gehoor het, het sommige wat van ons uitgegaan het, julle met woorde verontrus en julle siele ondermyn en gesê: Julle moet besny word en die wet onderhou; aan wie ons nie so 'n gebod gegee het nie; Dit het goedgedink dat ons, wat eendragtig bymekaar was, uitverkore manne na julle toe stuur saam met ons geliefde Barnabas en Paulus, Manne wat hulle lewe in gevaar gestel het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. Ons het dus Judas en Silas gestuur, wat ook vir julle dieselfde dinge per mond sal vertel. Want dit was goed vir die Heilige Gees en vir ons om geen groter las op julle te lê as hierdie noodsaaklike dinge nie; dat julle jul moet onthou van spys wat aan afgode geoffer is, en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery; en as julle julself bewaar, sal julle goed doen. Gaan dit goed. Toe hulle dan weggestuur is, het hulle in Antiogië gekom; en nadat hulle die skare bymekaargemaak het, het hulle die brief oorgegee. En toe hulle gelees het, was hulle bly oor die vertroosting. En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde vermaan en hulle bevestig.
HANDELINGE 15:6-32 DB (Die Boodskap)
Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek. By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom. God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het. “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo. “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom? Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.” Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus. Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my. Petrus het nou vir ons verduidelik hoe God lank terug besluit het om mense wat nie aan ons volk behoort nie nou ook deel van sy nuwe volk te maak. Hy het dit gedoen sodat hulle Hom ook kan dien. Dit is presies wat die profete vroeër geskryf het: ‘Ek sal binnekort terugkom, sê die Here. Dan sal Ek Dawid se koninkryk herstel wat nou in puin lê. Ek sal alles herbou wat afgebreek is. Ek sal dit splinternuut maak. In daardie tyd sal ander mense na my nuwe koninkryk toe stroom. Al die volke wat Ek na My toe uitnooi, sal dan na My toe kom. Ek, die Here, sal dit alles doen. Maar julle weet tog al hierdie dinge, want Ek het dit al lank gelede aan julle bekendgemaak.’ “Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê: Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie. “Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie. “Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.” Almal by die vergadering het met Jakobus se voorstel saamgestem. Die apostels, die ouderlinge en die gemeente het toe besluit om twee mans aan te wys om saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te gaan. Hulle name was Judas (sy bynaam was Barsabbas) en Silas, twee van die leiers in die kerk. Hierdie mans moes ’n brief namens die Jerusalemgemeente na Antiogië toe vat. Dit is wat in die brief gestaan het: Van die apostels en die ouderlinge en al die gelowiges hier in Jerusalem. Aan almal daar in die kerk in Antiogië, Sirië en Silisië wat vanuit die nie-Jodedom kom. Ons groet julle as ons broers en susters. Ons het gehoor dat ’n klompie mense uit Jerusalem daar by julle opgedaag het wat dinge vir julle gesê het wat julle omgekrap het. Ons verseker julle dat ons hulle nie na julle toe gestuur het nie. Hulle het sonder ons toestemming na julle toe gegaan. Ons het nou eenparig besluit om twee afgevaardigdes saam met ons twee geliefde broers, Barnabas en Paulus, na julle toe te stuur. Hulle was bereid om hulle lewens op die spel te plaas ter wille van ons Meester, Jesus Christus. Judas en Silas kom ook nou saam met hulle na julle toe. Hulle sal vir julle alles verduidelik wat ons in hierdie brief skryf. Die Heilige Gees en ons het saam besluit dat julle julle nie hoef te laat besny nie. Al wat ons van julle vra, is om die volgende voorskrifte na te kom: Moenie kos eet wat aan die afgode geoffer is nie. Moenie bloed drink of vleis eet van enige dier wat verwurg is nie. Moenie julle skuldig maak aan enige vorm van seksuele losbandigheid nie. As julle hierdie voorskrifte gehoorsaam, doen julle goed. Beste wense. Met die brief in die hand het die mans toe na Antiogië toe teruggekeer. Daar het hulle die hele gemeente bymekaargeroep en die brief voorgelees.Almal was baie bly toe hulle hoor dat hulle nie verplig was om besny te word nie. Judas en Silas, self ook profete wat die Here se wil bekendgemaak het, het toe lank met die gelowiges in Antiogië gepraat. Hulle het by ’n hele paar geleenthede met hulle oor God gepraat en hulle geloof opgebou.
HANDELINGE 15:6-32 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk. Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom. En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons. Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle dan nou beter as God weet deur op die nek van die nie-Joodse gelowiges ’n juk te lê wat ons voorgeslagte nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? Nee! Ons glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus verlos word – en dit geld ook vir daardie mense.” Daar was geen verdere bespreking nie en almal het vervolgens gesit en luister hoe Barnabas en Paulus vertel watter tekens en wonders God deur hulle onder die nie-Jode gedoen het. Toe hulle stilbly, het Jakobus gesê: “Geagte broers, luister na my. Simon het verduidelik hoe dit God self is wat die inisiatief geneem het deur vir Hom ’n volk uit die geledere van die nie-Jode te versamel. En hiermee stem die woorde van die profete saam. Daar staan geskrywe: ‘Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou. Ek sal sy bouvalle herstel, en dit weer regmaak sodat ook die ander volke die Here kan soek, ja, al die nie-Joodse nasies oor wie Ek my Naam uitgeroep het. So sê die Here wat hierdie dinge lank gelede al bekendgemaak het.’ “Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die gelowiges wat hulle uit die geledere van die nie-Jode tot God bekeer het nie. Ons moet egter vir hulle skryf om weg te bly van dinge wat deur afgode besoedel is, van seksuele sondes, asook van iets wat verwurg is, en van bloed. Julle weet mos: Moses het in elke stad al vir geslagte lank mense wat sy voorskrifte verkondig; elke Sabbatdag word sy boeke in die sinagoges voorgelees.” Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente in Jerusalem besluit om ’n afvaardiging uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië in Sirië te stuur. Hulle het twee leiersfigure onder die gelowiges gekies: vir Judas (sy noemnaam is Barsabbas) en vir Silas. Die vergadering het die volgende brief self geskryf: Hierdie brief kom van die apostels en die ouderlinge, julle broers in Jerusalem, en is geskryf aan die gelowiges uit die nie-Joodse volke in Antiogië, Sirië en Silisië. Groete! Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle gemoedere ontstel het met standpunte waarvoor ons hulle nie ’n mandaat gegee het nie. Daarom het ons eenparig besluit om ’n amptelike afvaardiging na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus, mense wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons stuur dan nou vir Judas en Silas om ook self mondeling ons besluit aan julle oor te dra. Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende voorskrifte: dat julle julle moet weerhou van alles wat aan afgode geoffer is, en van bloed, van diere wat verwurg is, en van seksuele sondes. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle goed. Vaarwel. So is hulle toe daar weg, op pad na Antiogië toe. Dáár het hulle die gemeente bymekaar laat kom en die brief oorhandig. Die gemeente het dit gelees en was baie bly oor die bemoediging. Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met hulle medegelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.