2 Timoteus 4

4
1Ek vermaan jou ernstig voor God en •Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies gaan oordeel, en ook met die oog op sy verskyning en sy koninkryk: 2Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. 3Want daar kom 'n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. 4Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.
5Maar bly jy in alles nugter, verduur jou lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, beoefen jou bediening voluit. 6Want ek word reeds as •drankoffer uitgegiet, en die tyd van my dood is naby. 7Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. 8Nou wag die oorwinningskrans van •geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet.
Laaste opdragte en groete
9Doen jou bes om gou na my toe te kom, 10want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië. 11Net Lukas is nog by my. Gaan haal vir Markus, en bring hom saam met jou, want hy is vir my baie nuttig in die bediening. 12Tigikus het ek na Efese gestuur. 13Wanneer jy kom, bring die mantel saam wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en ook die •boekrolle, veral die perkamente. 14Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. 15Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan. 16Tydens my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie; inteendeel, almal het my in die steek gelaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! 17Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. 18Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! •Amen.
19Stuur groete vir Priska en Akwila, en Onesiforus se huisgesin. 20Erastus het in Korinthe gebly, Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. 21Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus en Pudens en Linos en Claudia en al die broers stuur vir jou groete.
Seëngroet
22Die Here bly met jou gees! Die genade bly met julle!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid