2 Timoteus 3

3
Toekomstige moeilike tye
1Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom; 2 want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, 3ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, 5mense wat wel 'n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense. 6Want onder hulle is daar diegene wat huisgesinne binnedring, en ligsinnige vroue, oorlaai met sondes, hulle prooi maak – vroue wat voortgedryf word deur allerlei begeertes, 7wat altyd aan die leer is, maar nooit tot volle begrip van die waarheid kan kom nie. 8En soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, net so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat korrup is in hulle denke en onbetroubaar in hulle geloof. 9Maar hulle sal nie baie ver kom nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos dit ook met Jannes en Jambres die geval was.
Volharding in die leer
10Jy het my egter nougeset nagevolg in leer, lewenswandel, voorneme, geloof, geduld, liefde en volharding, 11in vervolging en lyding, soos wat ek in Antiogië, Ikonium en Listra ervaar het. Watter vervolgings ek ook al verduur het – die Here het my van alles gered! 12 Almal wat godvresend in •Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. 13Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word. 14Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, 15en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. 16Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, 17sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid