2 Petrus 2:13-22

2 Petrus 2:13-22 AFR20

en as loon vir onreg sal húlle veronreg word. Hulle beskou dit as genotvol om helder oordag te fuif. Terwyl hulle saam met julle feesvier, is hulle skandvlekke, wat hulle verlustig in hulle losbandigheid. Hulle oë is vol owerspel, en hulle kry nie genoeg van sonde nie; hulle verlei onstandvastige siele; hulle harte is geoefen in hebsug; hulle is vervloektes! Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. Hy is egter tereggewys vir sy oortreding: 'n Donkie, wat stom is, het, deur met die stem van 'n mens te praat, 'n einde gemaak aan die profeet se waansin. Hierdie mense is opgedroogde fonteine, miswolke voortgedryf deur 'n stormwind, mense vir wie die diepste duisternis gereed staan. Want terwyl hulle aanmatigende onsin verkondig, lok hulle deur onsedelike liggaamlike drange diegene uit wat met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef – mense wat aan hulle vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee. Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin. Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die •geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing: “'n Hond keer terug na sy eie braaksel,” en “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”